Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Android 11 nou hier – maar nog net vir dié fone

Die nuwe weergawe van die Android-bedryfstelsel is hier en kan nou op ’n handvol slimfone geïnstalleer word.

Google het Donderdag die eerste beta-weergawe van Android 11 aan eienaars van verskeie van sy reeks Pixel-fone beskikbaar gestel.

OnePlus-, Xiaomi- en Oppo-fone sal na verwagting eersdaags ook toegang kry tot Android 11.

Google het aanvanklik beplan om Android 11 tydens sy jaarlikse tegnologiekonferensie in Mei amptelik bekend te stel. Dié konferensie is egter weens die Covid-19-pandemie gekanselleer.

’n Aanlyn bekendstelling wat op 3 Junie sou plaasvind, is ook afgestel weens die betogings in Amerikaanse stede.

Vir eers kan Android 11 net op die volgende toestelle geïnstalleer word:

  • Pixel 2, 2 XL
  • Pixel 3, 3 XL
  • Pixel 3a, 3a XL
  • Pixel 4, 4 XL

Pixel-toestelle word deur Google self vervaardig en is nie in Suid-Afrika te koop nie. Heelparty Suid-Afrikaners besit wel ’n Pixel wat hulle oorsee gekoop het.

Die nuwe weergawe van Android kan regstreeks van die maatskappy se webwerf afgelaai word op enige van die geldige toestelle.

Wat is nuut in Android 11?

android

Google het reeds in Februarie ’n voorsmakie gegee van wat te wagte is met Android 11.

Een van die grootste verskille is die manier waarop daar met kennisgewings omgegaan word.

Kennisgewings oor gesprekke met mense gaan nou afsonderlik gegroepeer word van kennisgewings van sosiale media of selfs e-posse.

Gesprekvoering sal ook regstreeks van die tuisskerm af kan geskied danksy die konsep van “borrels” wat reeds deur Facebook gewild gemaak is in sy Messenger-app.

Elke “borrel” op jou tuisskerm verteenwoordig ’n ander persoon met wie jy ’n gesprek voer.

In teorie sal dit werk met enige kletsapp, solank die programmeerders die funksionaliteit vir Android 11 aktiveer.

Android 11 bring ook meer, en slimmer maniere om al jou ander toestelle vanaf jou slimfoon te beheer.

Jy sal vanuit jou kennisgewings kan kies op watter toestel jou musiek moet speel – hetsy die foon se eie luidspreker of ’n nabye Bluetooth-luidspreker.

android

Die bedryfstelsel sal ook kophou as jy besig was om na musiek te luister, ophou en die app toemaak. In plaas daarvan dat jy weer sal moet gaan soek na waar jy opgehou het, sal jy regstreeks vanuit die kennisgewings weer kan aanhou luister.

Android-gebruikers is gereeld die harnas in oor al die inligting wat Google en ander apps oor hulle versamel.

Android het by Apple se iOS geleer en besluit om gebruikers van Android 11 groter beheer te gee oor watter van hul besonderhede deur die bedryfstelsel self, of deur apps, deur derdepartye versamel mag word.

Afgesien daarvan spog Android 11 ook met ’n vars voorkoms, nuwe maniere om ’n video te maak van dit wat op jou selfoonskerm aangaan, sowel as programmatuur wat raakskerms meer sensitief en akkuraat maak.

Die finale weergawe van Android 11 sal na verwagting in September uitgereik word.

Apple beplan om in dieselfde tyd ’n nuwe weergawe van iOS ook uit te reik.

Meer oor:  Google  |  Pixel  |  Android  |  Slimfone  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.