Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Antivirus: Is dit nodig en moet ek daarvoor betaal?

Beskou jy jouself as ’n verantwoordelike internetgebruiker? Klik jy nooit op verdagte skakels of maak e-pos-aanhangsels van vreemdelinge oop nie? As dié beskrywing by jou pas, het jy waarskynlik al gewonder hoekom jy elke jaar honderde rande (of meer) opdok vir antivirusprogrammatuur wat skynbaar niks meer doen as om jou rekenaar stadiger te maak nie.

Rekenaarvirusse bly steeds ’n groot gevaar, waarsku John Mc Loughlin van J2 Software, ’n kubersekuriteitmaatskappy.Foto: Unsplash

“Nee man, gebruik sommer die gratis weergawe van Windows se antivirus wat in sy bedryfstelsel ingebou is,” paai ’n vriend jou om die braaivleisvuur.

“Ek het gehoor dit is net so goed soos daai programme waarvoor jy betaal.”

Glo dit of nie, maar dié stelling is wel deels waar, sê John Mc Loughlin, uitvoerende hoof van J2 Software, ’n kubersekuriteitsmaatskappy met kantore in Johannesburg en Kaapstad.

“Die verskil tussen die gratis weergawe van ’n antivirusprogram en die een waarvoor jy betaal, is hoofsaaklik funksioneel,” sê Mc Loughlin. Albei programme “beskerm” jou teen dieselfde virusse, maar die betaal-weergawe bied gewoonlik meer funksies, soos die blokkering van sekere webwerwe.

Rekenaarvirusse is geniepsige kwaaddoeners en die skeppers daarvan raak by die dag slimmer, waarsku hy.

Tradisionele antivirusprogrammatuur, selfs die weergawes waarvoor jy betaal, bied nie werklik genoeg beskerming teen die wilde weste van die kuberruim nie.

“Selfs ’n gratis weergawe van ’n antivirusprogram is beter as geen antivirusprogram,” sê Mc Loughlin. “Maar as jy nie bereid is om vir behoorlike beskerming te betaal nie, loop jy die risiko om alles te verloor.”

Die risiko van geen – of ’n gratis – antivirusprogram

Die meeste tradisionele antivirusprogramme, soos Windows se Defender of bekende handelsname soos Norton, Kaspersky of Avast!, werk op dieselfde konsep.

Hierdie programme skandeer jou rekenaar en aanlynbedrywighede en kyk uit vir ’n sogenaamde “handtekening” in ’n lêer wat dit as ’n virus sal identifiseer.

Die probleem met hierdie tipe sagteware is voor die hand liggend: elke virus se “handtekening” moet aan die program bekend wees, anders sal dit bloot deurgelaat word.

Volgens Mc Loughlin is dit juis hier waar die meeste antivirusprogrammatuur tekortskiet.

Aanvallers skep daagliks nuwe virusse met nuwe identifiseerbare eienskappe, wat beteken die meeste antivirusprogramme is konstant agter wat die herkenning van hierdie virusse betref.

Gratis antivirusprogrammatuur skandeer gewoonlik net lêers opsoek na die “handtekeninge” van reeds bekende virusse, maar bied basies geen beskerming teen nuwe virusse nie.

Die betaalde weergawe van programme soos Norton en Kaspersky bied dalk bykomende sekuriteit soos die monitering van webwerwe en e-pos-aanhangsels, maar kan ook net virusse bespeur waarvan die “handtekening” reeds bekend is.

Hoe kan nuwe virusse dan gekeer word?

Volgens Mc Loughlin is ’n goeie antivirusprogram een wat ’n rekenaar se gedragspatrone gebruik om verdagte aktiwiteite te bespeur.

Dit beteken die program monitor nie net lêers en aktiwiteite opsoek na bekende virusse nie, maar let ook op wat in die agtergrond op die rekenaar aan die gang is.

Sodra ’n virus op ’n rekenaar beland, voer dit ’n bepaalde aantal opdragte uit, verduidelik hy.

Die virus sal byvoorbeeld ’n verandering aan die rekenaar se register aanbring, ’n kode installeer wat slae op die sleutelbord monitor en terselfdertyd met ’n eksterne bediener kontak maak sodat hy enige inligting wat hy steel, daarheen kan stuur.

Gevorderde antivirusprogramme sal let op sulke gedrag en dit uitwys as ongewoon. Só kan ’n virus in sy spore gestuit word nog voor dit te veel skade kan aanrig.

As dié virus nog nie op enige lys van bekende virusse verskyn het nie, sou geen tradisionele antivirusprogram dit kon optel nie, want die virus se identifiseerbare “handtekening” was onbekend.

Wat van my selfoon of Mac?

Volgens John Mc Loughlin, uitvoerende hoof van J2 Software, is die kans om ’n virus op jou selfoon te kry skraal, vergelyke met ’n rekenaar.

Virusse word vir ’n spesifieke bedryfstelsel ontwerp. ’n Selfoon se bedryfstelsel verskil heeltemal van ’n rekenaar s’n, wat beteken ’n rekenaarvirus sal geen uitwerking op ’n selfoon hê nie, al word dit dalk daarop gelaai.

’n Apple Mac-rekenaar word ook algemeen as veiliger as ’n Windows-rekenaar beskou, maar dit is net omdat soveel meer virusse vir Windows-rekenaars geskep word.

“Daar is net soveel meer Windows- as Mac-rekenaars, so natuurlik sal kubermisdadigers dié groter poel van moontlike slagoffers teiken.”

Wat kan ek verloor?

   

’n Rekenaarvirus kan verreikende skade aan ’n toestel aanrig, sê Mc Loughlin. Eerstens kan dit jou persoonlike inligting steel en aan ’n derdeparty lewer.

Dit kan dit ook jou lêers sluit en ’n losprys eis sodat jy weer toegang daartoe kan kry.

Rekenaarvirusse kan ook gestoorde wagwoorde op jou toestel opspoor en aanstuur, of jou hardeskyf deurmekaar krap en in die proses lêers links en regs uitwis.

Kortom, jy kan álles wat op jou rekenaar gestoor is, in ’n ommesientjie verloor.

Dit sluit in foto’s van jou kinders of ’n musiekversameling wat oor dekades heen opgebou is.

Iemand wat afhanklik van sy toestel is vir werk, kan ook belangrike werksdokumente verloor.

“Hierdie inligting kan dikwels nie herwin word nie en is vir ewig verlore,” sê Mc Loughlin.

Elke keer as jy op jou slimfoon, rekenaar of tablet aanmeld of ’n e-pos oopmaak loop jy die gevaar om aan kubermisdaad blootgestel te word. Foto: Reuters
Kan ek nie net rugsteunkopieë maak nie?

   

Die algemene opvatting is dat ’n eksterne hardeskyf of bergplek in die sogenaamde “wolk” my teen sulke aanvalle sal beskerm.

“Dit is wensdenkery,” sê Mc Loughlin. Sodra ’n virus ’n rekenaar besmet, word dit ook oorgedra na enige eksterne hardeskyf wat daaraan verbind is. Besmette lêers word ook na die wolk gesinchroniseer, wat dit daar ook onbruikbaar laat.

“Die grootste verlies is egter die tyd wat jy verloor om alles weer na normaal te kry,” meen hy. Dit sluit in die tyd wat dit verg om jou rekenaar na ’n spesialis te neem wat jou bedryfstelsel moet herlaai en probeer om van jou lêers te herwin. Sulke spesialiste vra ook dikwels ’n plaas se prys vir dié diens.

So wat staan my te doen?

   

Die heel belangrikste is om seker te maak jy het wél ’n antivirusprogram wat jou rekenaar monitor, al moet dit dan ’n gratis program wees, sê Mc Loughlin.

Ideaal gesproke het elke rekenaargebruiker ’n omvattende antivirusprogram nodig, soos die een wat J2 lewer, om toestelle teen virusse te beskerm wat dalk nog nie eens aan die bedryf bekend is nie.

Hierdie dienste is ietwat duurder as bestaande produkte, maar bied gemoedsrus dat jou rekenaar veilig is teen enige moontlike aanval.

Meer oor:  Kuberaanval  |  Tegnologie  |  Rekenaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.