Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Apple, Google skop Fortnite uit

Apple en Google het Donderdag die gewilde videospeletjie Fortnite van hul onderskeie app-winkels verwyder.

Dit het Epic Games, die speletjie se skepper, genoop om dadelik vir Apple en Google in ’n Amerikaanse hof te dagvaar vir die beweerde oortreding van die land se mededingingswet.

Sowel Apple as Google sê die speletjie is verwyder omdat Epic Games nie die riglyne vir betalings binne die app gevolg het nie.

Epic Games eis geen finansiële vergoeding van Apple of Google in sy hofsaak nie, maar eerder ’n hofbevel wat die maatskappye se streng reëls oor betalings binne apps tersyde sal stel.

Fortnite kan vir nou nie op Android- of Apple-toestelle geïnstalleer word nie.

Apple en Google se besluit om dit uit hul app-winkels te verwyder, kom nadat ’n nuwe weergawe van Fortnite vroeër die week uitgereik is waarin spelers items in die speletjie kan koop sonder om dit deur Apple en Google se stelsels te laat gaan.

Dit beteken Apple en Google verloor kommissie (van tot 30%) op daardie transaksies.

Die tegnologiereuse was nie daarvoor te vinde nie en het toe Fortnite uit hul app-winkels verwyder.

“Apple is nou presies waarteen dit eens op ’n tyd baklei het: ’n Reus wat die mark wil beheer, mededinging keer en innovasie versmoor.

“Apple is groter, magtiger, meer ingeburger en skadelik as die monopolieë van vroeër,” sê Epic Games in sy hofaansoek.

Fortnite is een van die wêreld se gewildste videospeletjies. Foto: Reuters

Epic Games het Apple ook op sosiale media geteiken onder die hutsmerk #FreeFortnite. Spelers word aangemoedig om terugbetalings by Apple te eis omdat hulle toegang tot die speletjie verloor het.

Persone wat reeds die speletjie op hul fone het, kan wel steeds speel.

Apple se kommissie op verkope deur sy app-winkel beloop tussen 15% en 30% per transaksie, met ’n paar uitsonderings.

Ontleders meen speletjies (wat gewoonlik gratis is om af te laai, maar waar bykomstighede binne die speletjie self aangekoop word) dra die meeste by tot maatskappye soos Apple en Google se inkomste uit hul onderskeie app-winkel.

Besteding in Apple se app-winkel dra sowat $46,3 miljard tot sy inkomste per jaar by.

In ’n verklaring sê Apple Fortnite is verwyder omdat Epic Games sy riglyne oortree.

Volgens Apple is die riglyne daar om “regverdigheid” te skep sodat sy app-winkel “veilig is vir almal om te gebruik”.

Google het ook Fortnite uit sy app-winkel verwyder, maar wou nie kommentaar lewer oor die hofsaak nie.

“Ons verwelkom egter die geleentheid om besprekinge met Epic Games voort te sit en Fornite weer by die Google Play-winkel in te sluit,” sê die maatskappy in ’n verklaring.

Volgens Google het Epic Games ook sy riglyne oortree waarvolgens betalings vir dienste of goedere binne apps deur Google se stelsels moet gaan.

Epic Games het sy eie betaalplatform binne die Fortnite-app op sowel Apple- as Android-toestelle geskep wat hierdie stelsels heeltemal gesystap het.

Hy het spelers ook ruim afslag gebied as hulle aankope eerder deur sy platform as deur dié van Apple en Google doen.

Fortnite word wel meer op ander platforms, soos rekenaars en Sony se PlayStation, gespeel as op iOS- of Android-toestelle.

Epic Games maak nie syfers bekend vir hoeveel gebruikers hy op al die onderskeie platforms het nie, maar spelers op slimfone dra beduidend by tot sy inkomste, reken ontleders.

Fortnite is reeds sowat 2 miljoen keer elk uit die Google Play-winkel en Apple se app-winkel afgelaai.

Dit beteken nie noodwendig dat 4 miljoen mense dit op slimfone speel of aankope maak nie.

Omdat die Google Play-winkel nie die enigste app-winkel vir Android-toestelle is nie, kan spelers Fortnite steeds uit ander winkels, soos dié van Samsung aflaai, sê Epic Games in ’n inskrywing op sy blog.

Dit is egter nie moontlik op ’n iOS-toestel nie, want net Apple se eie app-winkel word daarop toegelaat. – Reuters, verwerk

Meer oor:  Fortnite  |  Apple  |  Epic Games  |  Google  |  Videospeletjies  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.