Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Apple se iPhone 12: Alles wat jy wil weet

Apple het Dinsdag sy jongste iPhones, en die eerstes met 5G-funksionaliteit, bekend gestel.

Die opvolger tot verlede jaar se iPhone 11 heet eenvoudig die iPhone 12 en word in vier weergawes uitgereik: die standaardmodel, die iPhone 12 mini, die iPhone 12 Pro en die iPhone 12 Pro Max.

Die pryse van dié toestelle wissel van $699 (sowat R11 500 teen die huidige wisselkoers) vir die iPhone 12 mini tot $1 399 (sowat R23 000) vir die duurste iPhone 12 Pro Max.

Amptelike Suid-Afrikaanse pryse is nog nie bekend gemaak nie.

Apple kondig normaalweg elke September sy jongste reeks iPhones aan, maar dit is vanjaar met bykans ’n maand uitgestel weens die koronaviruspandemie.

Die iPhone 12 mini en iPhone 12 Pro Max sal van 13 November af in Amerika beskikbaar wees. Die iPhone 12 en iPhone 12 Pro word op 23 Oktober uitgereik.

Al vier die modelle sal aan 5G-netwerke kan verbind.

5G, die opvolger van 4G, is wel nog ’n betreklik nuwe tegnologie en net in ’n handvol stede beskikbaar.

In Suid-Afrika is daar net plek-plek 5G-sein in onder meer Johannesburg, Centurion, Pretoria en Kaapstad.

Die spoed van plaaslike 5G-netwerke laat ook nog veel te wense oor, hoofsaaklik weens beperkte beskikbaarheid van hoëfrekwensiespektrum en gebrekkige infrastruktuur.

Diensverskaffers, waaronder Vodacom, MTN en Rain, beplan om in die komende maande heelwat meer in die uitbreiding van 5G-netwerke hier te belê.

Apple se aandeelprys het met 3% gedurende Dinsdag se bekendstelling gedaal en in die proses is $77 miljard in markwaarde uitgewis.

Apple se aankondiging Dinsdag was virtueel. Foto: Getty Images

   

Wat is anders aan die iPhone 12?

   

Afgesien van 5G-funksionaliteit bied die iPhone 12 ’n aantal verbeteringe op sy voorgangers.

Die ontwerp lyk ietwat anders met meer reghoekige kante en rondings aan die hoeke.

Die iPhone 12 se skerm is verbeterde Oled-tegnologie, wat beteken kleure (veral swart) vertoon dieper en duideliker.

Die foon is ook toegerus met Apple se splinternuwe A14- bioniese skyfie wat ook in die iPad Air gebruik word.

Die iPhone 12 is toegerus met ’n tweeledige kamerastelsel wat Apple beloof uitstekende kiekies in donker toestande neem. Die foon word in vyf kleure uitgereik: wit, rooi, swart, blou en groen.

   

Die ‘kleinste en ligste’ 5G-foon tot nog toe

   

Apple het Dinsdag ook sy eerste “mini”-iPhone aangekondig. Die iPhone 12 mini se 5,7 duim- (13,72 cm) skerm strek van hoek tot kant en weeg maar 135 g.

Dit bevat baie van dieselfde onderliggende tegnologie as die iPhone 12, insluitend die A14-skyfie.

Apple beweer die A14-skyfie is 50% vinniger as verlede jaar se A13-skyfie wat in die iPhone 11 gebruik word.

Die iPhone 12 mini is nie Apple se kleinste iPhone nóg nie (die iPhone SE is kleiner), maar dit is sy kleinste 5G-foon, en volgens die maatskappy ook die kleinste 5G-foon tot nog toe.

Die nuwe iPhone 12 Pro Max. Foto: Getty Images

   

Van klein na groot

   

In teenstelling met die iPhone 12 mini is die iPhone Max Pro nou amptelik Apple se grootste iPhone tot dusver.

Die skerm is ’n massiewe 6,7 duim (17,02 cm) van hoek tot kant. Die foon beskik oor ’n drieledige kamerastelsel, 5G-tegnologie en is ook toegerus met die nuwe A14-skyfie.

Die iPhone 12 Pro en iPhone 12 Pro Max toon baie ooreenkomste met verlede jaar se gelyknamige iPhone 11-modelle, insluitend ’n Oled-skerm.

Albei toestelle kom in vier kleure: silwer, grys, goud en blou.

Die kamerastelsel op die iPhone 12 Pro Max. Foto: Getty Images

   

Geen herlaaiprop, oorfone

   

Al die nuwe iPhones word sonder ’n paar oorfone of ’n herlaaiprop verskeep, het Apple bevestig.

Dit word glo gedoen om die maatskappy se impak op die omgewing te help verlig.

Die fone sal net van ’n USB-herlaaikabel vergesel word, maar geen herlaaiprop om daardie kabel aan ’n muurprop te verbind nie.

Dié stap geld alle toekomstige iPhones, het Apple gesê.

Die maatskappy het vroeër vanjaar ook geen herlaaiprop saam met die nuwe Apple Watch Series 6 verskeep nie om dieselfde rede.

Omdat geen herlaaiprop saam met die foon in die boks verskeep word nie, kan Apple meer toestelle per vrag vervoer en so ook sy koolstofuitlatings verminder.

Volgens Apple se eie berekeninge sal die stap help om meer as twee miljoen metrieke ton se koolstofvrystelling te sny, gelykstaande aan 450 000 motors wat nie meer rondry nie.

Kritici van Apple se besluit reken die maatskappy doen dit eerder om vervoerkoste te besnoei of om sy inkomste te verhoog aangesien gebruikers nou die herlaaiprop afsonderlik sal moet aanskaf sou hulle wou.

Die iStore, wat Apple-produkte in Suid-Afrika verkoop, sal na verwagting eers later vandeesmaand die pryse van die nuwe toestelle in Suid-Afrika aankondig.

Meer oor:  Apple  |  Iphone  |  Tegnologie  |  Slimfone  |  Iphone 12
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.