Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Apple staal hom vir tekort aan iPhones weens virus

Apple het Maandag gewaarsku hy sal waarskynlik nie sy verkoopsteikens vir Maart haal nie weens ’n wêreldwye tekort aan sy toestelle wat hoofsaaklik in China vervaardig word.

Fabrieke in China, insluitende dié wat Apple-toestelle vervaardig, is steeds lamgelê weens die Covid-19-virussiekte wat reeds meer as 72 000 mense wêreldwyd besmet het.

Miljoene mense in China is by hul huise ingeperk en kan onder meer nie werk toe gaan nie. Dit lei tot ’n tekort aan werkers in die fabrieke wat nuwe iPhones, iPads en ander Apple-toestelle maak.

Volgens Apple het van sy fasiliteite in China weer met vervaardiging begin, maar die proses is stadiger as verwag.

Dit beteken dat minder iPhones in die komende weke oor die wêreld heen te koop sal wees.

Verskeie Apple-winkels in China is steeds gesluit of doen net beperkte ure per dag sake.

Die meeste van Apple se produkte word in China vervaardig. Foto: Unsplash

Apple gaan die impak van die virus aan sy sak voel met dalende verkope in die huidige kwartaal. Sy inkomste vir die laaste kwartaal in China beloop 15% van sy totale inkomste wêreldwyd, oftewel $13,6 miljard.

Op ’n jaargrondslag verdien Apple 18% van sy inkomste in China.

Aan die einde van Januarie het Apple inkomste van tussen $63 miljard en $67 miljard voorspel vir die kwartaal tot einde Maart.

Die maatskappy het reeds die moontlike impak van Covid-19 in sy vooruitskatting in ag geneem. Apple het nie Maandag sy inkomsteskatting of winsvoorspelling aangepas nie.

“Die omvang van Apple se besef dat hy nie sy inkomsteteikens gaan haal nie, is duidelik erger as wat aanvanklik gevrees is,” sê Daniel Ives, ontleder van Wedbush.

Apple, met ’n totale markwaarde van ongeveer $1 400 miljard, se aandeelprys kan Dinsdag gelooi word nadat die aandelemarkte in die VSA Maandag vir ’n vakansiedag gesluit was.

“As Apple se aandele goedkoop was, sou dit miskien nie veel saak gemaak het nie. Maar wanneer hulle teen rekordvlakke verhandel, sal beleggers sekerlik in die versoeking wees om te verkoop,” sê Norihiro Fujito, hoofbeleggingstrateeg by Morgan Stanley Securities.

Aandele in Asiatiese verskaffers het ná Apple se aankondiging gedaal. Samsung se aandeelprys het met 2,4% gedaal en Taiwan se Semiconductor Manufacturing is 1,8% laer.

Ontleders raam dat die virus die vraag na slimfone in China in die eerste kwartaal kan halveer. China is die wêreld se grootste mark vir nuwe slimfone.

Meer oor:  Apple  |  Iphone  |  Tegnologie  |  Koronavirus  |  Korona
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.