Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Apple steel glo geheime
Apple word deur Qualcomm hof toe gesleep weens die beweerde diefstal van bedryfsgeheime.Foto: Getty Images

Qualcomm, bekende vervaardiger van rekenaarskyfies, beskuldig die tegnologiereus Apple daarvan dat hy sy geheime gesteel en aan sy grootste mededinger, Intel, gegee het in ’n poging om hom te ondermyn.

Die skyfievervaardiger sê dit het die weg gebaan vir Intel om beter rekenaarskyfies te vervaardig wat tot die verlies van miljarde dollars in inkomste vir Qualcomm gelei het.

Dié beskuldiging is die jongste bekgeveg tussen die twee vyandiggesinde maatskappye.

Qualcomm voer in ’n hofgeding aan dat Apple sy programmatuur misbruik het om inligting te bekom en met ingenieurs by Intel te deel. Die maatskappy beweer Apple het jare lank bedryfsgeheime gesteel in ’n doelbewuste poging om Qualcomm se mededingers te bevoordeel. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat Apple nie meer Qualcomm se skyfies in sy toestelle gebruik het nie, maar eerder op Intel-tegnologie begin staatmaak het.

Apple wou nie kommentaar lewer nie. Intel, wat nie regstreeks by die hofsaak betrek word nie, wou ook nie kommentaar lewer nie.

Apple het voorheen Qualcomm se skyfies in sy iPhones gebruik om die toestelle aan die internet te verbind. Maar sedert die bekendstelling van die iPhone 7 in 2016 maak Apple eerder op Intel se tegnologie staat. Qualcomm het in Julie aan sy beleggers gesê hy glo dat Apple sedertdien al sy tegnologie uit sy produkte verwyder het en nou slegs van Intel gebruik maak.

Die jongste moddergooiery tussen Apple en Qualcomm volg op ’n vroeëre beskuldiging van Apple dat Qualcomm op ’n onbillike wyse sy tegnologie patenteer. Qualcomm het destyds teruggekap en Apple van patentskending beskuldig.

Die skyfievervaardiger sê hy het Apple “ongekende toegang” gebied tot vertroulike programmatuur om die tegnologiereus te help om sy skyfies suksesvol in nuwe iPhones te integreer.

Qualcomm het Dinsdag met die indiening van ’n nuwe regsgeding gesê hy het intussen ontdek Apple het dié programmatuur herhaaldelik misbruik om inligting aan Intel se ingenieurs te verskaf om hul “swak skyfies” te verbeter.

Die maatskappy het nie bewyse ingedien om sy aantygings te staaf nie. – Reuters, verkort

Meer oor:  Apple  |  Tegnologie  |  Hofgeding  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.