Net twee jaar nadat Apple die eerste maatskappy ter wêreld geword het wat $1 triljoen werd was, het die iPhone-vervaardiger sy markwaarde verdubbel tot meer as $2 triljoen.

’n Argieffoto van ’n Apple-promosie in Skotland. Foto: Simon Dawson, Bloomberg
Netwerk24 verkies om daarna te verwys as $2 000 miljard om verwarring uit te skakel aangesien triljoen twee betekenisse kan hê. $2 000 miljard is ’n syfer met 12 nulle, terwyl triljoen 12 of 18 nulle kan hê na gelang van watter skaal (kort of lank) gebruik word. Besoek Wikipedia vir ’n verduideliking van die twee skale.
Apple het die mylpaal Woensdag kortstondig bereik toe sy aandeelprys op die New Yorkse Aandelebeurs tot hoër as $467,77 gestyg het. Dit het egter die dag op $462,83 gesluit vir ’n markwaarde van $1 979 miljard.
Die groot toets is nou hoe lank dit sal duur voordat Apple bo $2 000 miljard sluit.
Apple is nie die eerste maatskappy wat $2 000 miljard werd is nie. Die staatsbeheerde oliemaatskappy van Saoedi-Arabië, Aramco, het ook al dié mylpaal gehaal sedert dit in Desember in Dubai genoteer het. Dis nou nagenoeg $1 800 miljard werd volgens die huidige wisselkoers.
Apple het Aramco in Julie verbygesteek om (weer) die wêreld se waardevolste maatskappy te word.
Dit kom nadat Apple se aandeelprys sedert die begin van die jaar al met byna 58% gestyg het.
Beleggers het die afgelope jaar te midde van die Covid-19-krisis hul vertroue in tegnologiefirmas getoon. Facebook se aandeelprys op die Nasdaq het al met 28% gestyg en Amazon s’n met 77%.
Apple het onlangs stewige syfers vir die tweede kwartaal uitgereik danksy die bekendstelling van die goedkoper iPhone SE. In September stel die maatskappy sy eerste fone bekend wat 5G kan behartig.