Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Het jy al pornografie aanlyn gekyk? Lees dan hier
Hoewel daar op sigself niks makeer om pornografie aanlyn te kyk nie, is dit belangrik om te onthou hierdie webwerwe versamel groot hoeveelhede inligting oor jou sonder jou medewete. Foto: Unsplash

As jy gedink het dit is genoeg beskerming om gewaagde webwerwe in ’n private venster van jou webblaaier te besoek, dink weer.

In ’n studie onder leiding van navorsers by Microsoft en die universiteite van Pennsilvanië en Carnegie Mellon in Amerika is bevind dat ’n verstommende 93% van pornografiese webwerwe besoekers se data aan derde partye verskaf – bykans altyd sonder toestemming.

En dit maak nie saak of jy die webwerwe in sogenaamde “incognito mode” besoek nie: Jou inligting word steeds versamel en sonder jou medewete gedeel.

Volgens die navorsers is dit ’n algemene wanopvatting dat webblaaiers soos Google se Chrome en Firefox keer dat jou inligting deur webwerwe versamel word as jy die bladsye in ’n private venster besoek.

Dit is onwaar en die webblaaiers maak dit duidelik, maar gebruikers verkies dalk om te hoop op die beste.

Sodra ’n private venster in Chrome oopgemaak word, staan daar pertinent dat Google jou data nié beskerm teen die webwerf wat jy beplan om te besoek nie, en dat jou internetdiensverskaffer of netwerk-administrateur steeds sal kan sien waarna jy kyk.

Hoekom is dit ’n probleem?

Hoewel die kyk van pornografie vir persone ouer as 18 jaar nie onwettig in Suid-Afrika is nie, geld dit nie orals ter wêreld nie.

LEES OOK: Suid-Afrikaners se porno-gewoontes verklap

In verskeie lande, soos Guyana, Bangladesj, Indië, Suid-Korea, Saoedi-Arabië, Nigerië, Pakistan en selfs Botswana is dit totaal onwettig om pornografie te besit of ’n pornografiese webwerf te besoek.

Kenners reken tot 30% van data wat op enige gegewe oomblik oor die internet gestuur word, herlei terug na ’n pornografiese webwerf.

’n Verslag wat 2017 uitgereik is, het bevind dat pornografiese webwerwe meer besoekers per dag as Netflix, Amazon en Twitter tesame kry. Pornhub, een van die bekendste pornografiese webwerwe, is in 2018 meer as 33,5 miljard keer besoek.

Dié webwerf en ander soortgelyke platforms versamel data oor besoekers wat IP-adresse (jou unieke adres op die internet wat jou ligging kan verklap) en kykgewoontes insluit.

Nie net kan dit dus problematies wees dat die webwerwe weet jy kyk pornografie in ’n land waar jy nie mag nie, dit kan ook afleidings maak oor jou seksuele voorkeure, wat eweneens lewensgevaarlike gevolge kan inhou.

Die navorsers het bykans 22 500 pornografiese webwerwe ontleed en bevind dat 45% daarvan aktief gebruikers se voorkeure nagaan, kwansuis om meer inhoud te bied waarvan die persoon moontlik sal hou.

Die webwerwe versamel egter dié inligting sonder die gebruiker se medewete en maak afleidings van seksuele voorkeure wat nie noodwendig waar is nie.

Dit beteken ’n persoon wat graag aanlyn na homoseksuele pornografie kyk, is dalk nie self homoseksueel nie.

Tog is homoseksualiteit onwettig in verskeie veral Moslem- en Afrika-lande, waaronder Nigerië, Iran, Afganistan en Mauritanië.

Sou ’n pornografiese webwerf dus ooit die slagoffer wees van ’n kuberaanval, kan dit lewensgevaarlike gevolge vir sommige gebruikers inhou.

pornography, pornografie, porn
Foto ter illustrasie deur Unsplash

So wat staan my te doen?

Kortom moet jy jou vergewis van die feit dat webwerwe soos Pornhub altyd data oor jou gaan versamel en dit met derde partye deel.

Maak daarom seker jy besoek nie sulke webwerwe in jurisdiksies waar dit onwettig is nie.

Moet ook nooit klik op ’n advertensie wat op ’n pornografiese webwerf verskyn nie; dit kan gevaarlike indringerware op jou rekenaar of selfoon aflaai.

Wees ook versigtig voor jy inteken op of betaal vir enige pornografiese webwerf.

Sodra jy ingeteken het, besit die webwerf nóg meer van jou persoonlike inligting, waaronder jou naam, e-posadres en in somme gevalle ook jou huisadres.

LEES OOK: Sien só wat jou kinders op hul fone aanvang

Nes enige ander webwerf waarop aanlyn aankope gemaak word, wees versigtig voordat jy jou kredietkaartbesonderhede invoer om ’n intekening op ’n pornografiese webwerf aan te skaf. Meer bekende webwerwe soos Pornhub het stelsels wat betalings beveilig, maar veral van die kleiner, meer obskure webwerwe het nie.

Hou ook gerus aan om hierdie tipe webwerwe in ’n privaat venster te besoek, maar weet net dit gaan nie keer dat jou data versamel word nie.

Dit sal wel help keer dat boetman of sussie agterkom wat Pappa laataand op die huis se rekenaar aanvang.

Meer oor:  Internet  |  Pornhub  |  Pornografie  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.