Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Ayo met R6,5 m. beboet vir foute in resultate

Die JSE het Ayo Technologies met R6,5 miljoen beboet weens ongerymdhede met sy resultate, waardeur die groep belangrike noteringsvereistes oortree het.

PRETORIA, SOUTH AFRICA - APRIL  2: Chairperson of
Iqbal Survé getuig voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK in Pretoria. Foto: Gallo Images

Die JSE sê ook in ’n verklaring hoewel sy ondersoek na die maatskappy as regspersoon nou klaar is, duur ondersoeke na individuele direkteure voort. Dit sluit huidige én voormalige direkteure in wat op die direksie gedien het gedurende die tydperke waarin die onreëlmatighede plaasgevind het.

Ingevolge art. 11 (5) van die Wet op Finansiële Markte is noteringsvereistes bindend op maatskappye en hul direkteure.

Ayo vorm deel van dr. Iqbal Survé se Sekunjalo-groep.

Die voortslepende drama oor Ayo se resultate volg op die Mpati-kommissie van ondersoek na onreëlmatige beleggingsbesluite by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), die staatsbeheerde batebestuursmaatskappy wat ’n groot deel van staatsamptenare se pensioenfondsgeld belê.

Een van die herhalende temas van getuienis voor dié kommissie was dat daar ’n baie vriendskaplike verhouding tussen Survé en dr. Daniel Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, was waardeur behoorlik beleggingsprosesse gereeld omseil is.

In April 2019 het twee voormalige topbestuurders van Ayo voor regter Lex Mpati getuig dat hulle opdrag gegee is om syfers in Ayo se resultate vir die ses maande tot einde Februarie 2018 aan te pas om die markwaarde van die maatskappy hoër te laat lyk.

Die JSE het Ayo toe opdrag gegee om die 2018- én 2019-halfjaarsyfers deur eksterne ouditeurs te laat oudit, iets wat nie gewoonlik ’n vereiste vir tussentydse resultate is nie.

Ayo se bestuur het verskeie tekortkominge in die maatskappy “ontdek”, soos dat daar nie genoeg gekwalifiseerde mense in die finansiële afdeling was nie en dat finansiële beheermaatreëls ontbreek het wat moes verseker dat akkurate, volledige inligting aan die mark uitgereik word.

Ayo het sy hersiene halfjaarsyfers vir 2018 en 2019 en hersiene voljaarsyfers vir 2018 en 2019 uitgereik. Dit het wesentlike regstellings bevat, onder meer van bruto wins, bedryfsuitgawes, beleggingsinkomste, nabelaste wins. Van die syfers moes met enorme persentasies aangepas word – meer as 50% in baie gevalle en selfs in een geval met 133%.

Die JSE bevind Ayo het nie aan internasionale finansiële verslagdoeningstandaarde (IFRS) voldoen nie, en het foutiewe, vals en misleidende inligting uitgereik oor “wesentlike aspekte” van sy resultate.

Die maatskappy self hou in ’n verklaring vol, in weerwil van die getuienis voor die Mpati-kommissie, dat geen fout “doelbewus, bedrieglik of moedswillig” gedoen is nie.

Die groep sê hoewel die direksie “nie ingenome” is met die openbare sensuur en boete wat die JSE opgelê het nie, aanvaar hy wel die JSE se bevindings dat die resultate nie aan die IFRS voldoen het nie “en dat Ayo nie die hoogste sorg aan die dag gelê het in die verspreiding van finansiële inligting aan die mark nie”.

Die groep sê die tekortkominge is intussen reggestel en Ayo het regdeur die proses met die JSE en sy ouditeure saamgewerk. Die JSE het ook te kenne gegee dat die groep saamgewerk het in die ondersoek.

Ayo sê hy het heelwat regstellende stappe gedoen om ’n herhaling van foute te voorkom.

In sy verklaring voer Ayo aan die foute was onder meer “oordeelsfoute” oor hoe “komplekse rekenkundige transaksies” soos sakekombinasies en afskrywings weergegee word.

Meer oor:  Ayo Technology Solutions  |  Ayo  |  Iqbal Survé  |  Tegnologie  |  It  |  Ikt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.