Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Bank Zero maak sy tariewe bekend
Bank Zero is Suid-Afrika se jongste digitale bank.

Zero. Dit is hoeveel kliënte van Bank Zero kan verwag om per maand, jaar en per transaksie te betaal.

Suid-Afrika se jongste digitale bank het Woensdag sy langverwagte pryslys bekend gemaak.

Maandelikse tariewe op enige rekening, hetsy vir ’n individu of onderneming, beloop nul rand. Oorbetalings na ander banke beloop ook nul rand, asook betalings met ’n kaart by betaalpunte.

Die bank se filosofie is basiese bankdienste moet gratis wees, maar dat kliënte vir bykomende dienste betaal.

Derhalwe word ’n tarief onder meer gevra om kontant by ’n kitsbank te onttrek sowel as om geld na ’n derdeparty te stuur wat dit dan as kontant by ’n supermark onttrek.

Die “zero” in Bank Zero se naam verwys juis daarna dat sy rekeninge gratis is om te open en te gebruik.

Ondernemings en individue betaal dieselfde

Bank Zero tref geen onderskeid tussen individuele kliënte en ondernemings wat bankkoste betref nie.

By ander kommersiële banke beloop die maandelikse koste van ’n sakerekening heelwat meer as wat individue betaal.

“Ons tariewe is heeltemal anders as dié in die bedryf,” sê ’n woordvoerder van Bank Zero.

Waar kliënte van ander banke, byvoorbeeld, bykomende bankkoste aangaan om ’n nuwe gebruiker by ’n onderneming se aanlyn bankprofiel te voeg, is dit gratis by Bank Zero.

Kennisgewings oor in- en uitbetalings is ook gratis by Bank Zero sowel as debietorders.

Ander banke bied ook gratis rekeninge vir ondernemings wat minder as ’n sekere bedrag in jaarlikse omset verdien.

Hoewel geen maandelikse tarief gevra word nie, betaal gebruikers in die meeste gevalle per transaksie, oorbetaling of onttrekking.

Die basiese bankrekening vir ondernemings van Tyme Bank, nog ’n bank wat volkome digitaal is, kos ook niks per maand nie en die meeste transaksies is ook gratis.

Kaarte kos wel geld

Bank Zero se gepatenteerde bankkaarte kos wel geld. Aangesien die bank volkome digitaal is, moet die kaart afgelewer word.

Dit kos R79 per kaart as kliënte dit by ’n Clicks afhaal, of tussen R139 en R179 as die kaart by ’n kliënt se huis afgelewer word.

Die kaarte bevat gevorderde tegnologie om kaartbedrog te voorkom, het Bank Zero vroeër gesê.

Kliënte van Bank Zero behou ook hul kaartnommers, selfs al word ’n nuwe kaart uitgereik.

Wanneer maak die bank ‘oop’?

Bank Zero het in September aan Netwerk24 gesê hy is reeds “geruime tyd” in bedryf en dat sy platform en betalingstelsels deur ’n geslote groep gebruikers en ondernemings getoets word.

Die bank beplan om gaandeweg meer kliënte toe te laat.

“Ons proses is om al hoe meer en meer mense toe te laat op ons kliëntebasis – dis die maklikste manier om te leer en ook te verseker dat ons ’n goeie diens lewer voordat ons volstoom op dreef kom.

“Ons gaan dus teen die einde van die jaar ’n substansiële aantal mense hê wat by ons bank,” het ’n woordvoerder Woensdag aan Netwerk24 gesê.

Die amptelike bekendstelling van Bank Zero sloer nou al geruime tyd nadat die aanvanklike aankondiging oor sy koms vroeg in 2018 gedoen is.

Bank Zero betree ’n mededingende mark. Discovery Bank en Tyme Bank is twee digitale banke wat reeds in bedryf is, afgesien van bestaande banke wat ook al meer op digitale bankdienste fokus.

Meer oor:  Bank Zero  |  Bankdienste  |  Bankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.