Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Banke bewe vir bitcoin-tegnologie
Suid-Afrikaanse banke begin ál meer na die tegnologie kyk wat bitcoin aandryf. Foto: Bloomberg

Banke kyk ál meer na hoe tegnologie soos sogenaamde blokkettings, wat gebruik word om kriptogeld soos bitcoin te myn, van toepassing kan wees in die toekoms.

Blokketting-tegnologie (op Engels: “blockchain”; dit is ’n ketting van blokke transaksies wat al hoe langer word) is ’n digitaal verspreide grootboek om groepe transaksies te bevestig.

Ethereum, wat van ’n wêreldwye rekenaarnetwerk gebruik maak om slim kontrakte te kodeer wat byvoorbeeld outomaties betalings kan ontsluit as daar aan sekere vereistes voldoen word, gebruik ook dié tegnologie.

Blokketting-tegnologie het die potensiaal om die bankwese te ontwrig deur sommige funksies, soos die bewyslewering van betalings, oor te neem.

Regskenners by Norton Rose Fulbright in Sandton, Johannesburg, het bevestig plaaslike banke begin kennis neem van dié tegnologie.

“Daar is nog geen grootskaalse inwerkingstelling van dié tegnologie in banke nie, maar hulle is almal baie bewus daarvan en hulle probeer om te kyk hoe hulle dit op ’n klein skaal kan gebruik,” sê Nerushka Bowan, ’n senior vennoot by dié maatskappy.

Absa het in Julie aangekondig hy het lid geword van die R3-blokkettingkonsortium. Die konsortium verteenwoordig meer as 50 groot maatskappye en Absa het gesê hy gaan saam met ander banke werk om Afrika se eerste verspreide grootboek-gegronde bankdiens te ontwikkel.

Bowan glo as banke blokketting-tegnologie begin gebruik, dit die hele sektor kan ontwrig.

“Die banke is almal baie bang. Hulle is ’n betroubare tussenganger vir die uitruil van geld. As jy die bank kan uitskakel deur blokketting-tegnologie te gebruik, het ons nie meer ’n bank nodig nie,” sê sy.

Rohan Isaacs, direkteur en hoof van tegnologie en innovasie vir Afrika by Norton Rose Fulbright, sê reguleerders wêreldwyd, ingesluit die Suid-Afrikaanse Reserwebank, kyk ook na blokketting-tegnologie.

As jy die bank kan uitskakel deur blokketting-tegnologie te gebruik, het ons nie meer ’n bank nodig nie.

“Die Reserwebank kyk beslis na blokketting-tegnologie,” het Isaacs vir Fin24 gesê.

“Ek dink nie reguleerders wêreldwyd het al ’n goeie begrip hieroor gekry nie. So ek raai ons Reserwebank is ’n goeie maatskappy.

“Regulasie volg tipies op innovasie. Daar is baie goeie redes daarvoor. Voordat daar vasgestel kan word wat die reëls moet wees, moet daar eers verstaan word wat eintlik gereguleer moet word.

“Om eerlik te wees – die blokketting-mark is nog nie goed genoeg ontwikkel nie,” meen Isaacs.

Norton Rose Fulbright sê hy help banke wêreldwyd met hul regsvrae oor blokketting-tegnologie.

“Ons het baie inligting gekry van oor die wêreld heen en ons praat spesifiek met banke vanuit die perspektief van risiko en regsadvies,” sê Bowan.

Bowan sê daar is verskeie regsrisiko’s wanneer dit by blokketting kom. Hulle kyk ook na ander aspekte soos die voorsieningsketting en privaatheid.

– Fin24

Meer oor:  Banke  |  Bitcoin  |  Blockchain
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.