Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Bedrog van tot R1,2 miljard by EOH ontdek

Tenderknoeiery, onetiese sakepraktyke en “verdagte betalings” ter waarde van R1,2 miljard is by Suid-Afrika se grootste inligtingstegnologiefirma, EOH, ontdek.

Die embleem van die inligtingstegnologiemaatskappy EOH.

EOH het die adviesfirma ENSafrica begin vanjaar aangestel om korrrupsiebewerings te ondersoek. Die forensiese verslag en sy aanbevelings is vroeg vandeesmaand aan EOH se direksie oorhandig en die direksie het van dié bevindings nou bekend gemaak.

EOH hou Dinsdag om 09:00 ’n webuitsending om die bevindings uiteen te sit.

ENSafrica se ondersoek duur voort. Tot dusver is bewyse van “’n aantal mislukkings van korporatiewe beheer en wangedrag” opgespoor. Dit is hoofsaaklik beperk tot EOH Mthombo, die filiaal wat met die staatsektor sake doen.

EOH sê ’n “beperkte aantal EOH-werknemers” word by die ongerymdhede betrek.

Die verdagte transaksies word nog verder ondersoek en EOH beklemtoon: “Die presiese aard van elkeen van die transaksies is nog nie geverifieer nie en kan verband hou met legitieme transaksies, diefstal of omkopery en korrupsiebetalings.

ENSafrica sal EOH tweemaandeliks inlig oor wat hy verder moet ondersoek en regstellende stappe wat gedoen moet word. “EOH sal voortgaan om die finansiële impak van die bevindings te assesseer.”

EOH het Maandagmiddag aangekondig drie direkteure het bedank, maar vir twee van hulle word geen rede aangevoer nie.

  • Pumeza Bam was die afgelope twee jaar ’n nie-uitvoerende direkteur van EOH en van sy filiale se direksies en trusts, en voor dit sewe jaar lank ’n uitvoerende direkteur. Haar bedanking is vanaf 12 Julie van krag.
  • Zunaid Mayet, uitvoerende hoof van die EOH-filiaal Nextec, het uit dié pos bedank, sowel as uit die direksies van verskeie EOH-filiale. Hy was tien jaar lank by EOH.  EOH loof hom vir die skepping van Nextec en dat hy “die wiele aan die rol gesit het om korporatiewe prosesse te verbeter”. Sy bedanking is ook vanaf 12 Julie van krag, maar hy sal nog tot 31 Oktober help met die oorgang by Nextec. Hy “beoog om op ’n nuwe entrepreneuriese projek aan te pak”, volgens EOH.
  • Rob Godlonton, uitvoerende hoof van EOH se afdeling vir informasie- en kommunikasietegnologie (IKT), het uit dié pos bedank, sowel as uit verskeie EOH-filiale se direksies. Godlonton is al elf jaar by EOH en het die maatskappy “met energie en toewyding” gedien, volgens die maatskappy. Sy bedanking is vanaf 12 Julie van krag, maar hy sal tot 31 Oktober help met die oorgang by die IKT-afdelinng.In die Sens-verklaring word die drie vir hul toewyding en bydrae tot EOH bedank.
Meer oor:  Eoh  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.