Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Bekendstelling van Samsung se voufoon vou

Samsung het die bekendstelling van sy byderwetse voubare slimfoon wat vandeesweek sou plaasvind, uitgestel.

Dit volg nadat die Galaxy Fold in die hande van verskeie tegnologieskrywers van oral oor gebreek het.

Netwerk24 het Donderdag berig Samsung se eerste voubare foon sou Dinsdag op ’n geselligheid in Melrose Arch, Johannesburg, bekend gestel word. Die foon sou teen Vrydag in winkels beskikbaar wees teen ’n beweerde prys van R45 000.

Hierdie planne is egter nou geskrap en Samsung sê in ’n verklaring wat laat Maandagaand aan joernaliste gestuur is, die bekendstelling sal nou eers oor ’n paar weke gebeur.

“Hoewel baie tegnologieskrywers opgewonde is oor die potensiaal van die nuwe tegnologie, het hulle ons ook gewys die toestel moet nog verbeter word ten einde die beste produk aan gebruikers te lewer,” sê die maatskappy.

“Ten einde hierdie terugvoer volledig te ontleed en om verdere toetse te doen, het ons besluit om die bekendstelling van die Galaxy Fold uit te stel.

“Ons beplan om ’n nuwe datum daarvoor binne die volgende paar weke aan te kondig.”

Een van die toetsmodelle van die Galaxy Fold wat in ’n joernalis se hande gebreek het.Foto: Mark Gurman, Bloomberg

Mark Gurman, tegnologieskrywer van Bloomberg, het verlede Woensdag foto’s gedeel van sy Galaxy Fold wat ná net twee dae “heeltemal gebreek” en “onbruikbaar” is.

Gurman is een van ’n handjievol joernaliste wat ’n voorsmakie van die Fold gekry het voor die aanvanklike bekendstelling.

Dieter Bohn van The Verge se Fold se skerm het skynbaar vanself begin oplig ná net ’n paar dae se gebruik.

Steve Kovach van CNBC se Fold se skerm het ook na ’n paar dae begin probleme gee.

Die maatskappy het spoedig die joernaliste se toestelle vervang en gesê hulle gaan ondersoek instel na wat moontlik kon veroorsaak het dat die fone so gou gebreek het.

Een van die probleme blyk te wees ’n plastiese beskermer wat oor die skerm geplak is. Sommige joernaliste soos die bekende YouTube-vlogger Marques Brownlee het gedink dis ’n gewone lagie wat oor die skerm geplak is.

Hy het sy foon s’n probeer aftrek waarna die toestel gebreek het.

Volgens Brownlee is dit standaardpraktyk vir hom om die skermbeskermer van ’n nuwe foon af te haal sodra hy ’n toetsmodel ontvang.

In die geval van die Fold was dié stap ’n reusefout. Brownlee sê egter Samsung het nêrens op die foon of in die boks waarin dit verpak was gewaarsku dat dié lagie op die skerm nie afgetrek moet word nie.

In die verklaring Maandag sê Samsung hy gaan bykomende instruksies insluit saam met die foon oor hoe om dit behoorlik te hanteer sodat ’n geval soos wat met Brownlee gebeur het, verhoed kan word.

Voorlopige bevindinge dui ook op probleme met die Galaxy Fold se skarnier. ’n Ligte stamp aan die Fold se bo- of onderkant laat dit onbruikbaar, het joernaliste bevind.

“Ons gaan stappe doen om die skerm verder te beveilig,” sê Samsung.

Volgens Samsung stel hy die vertroue van sy gebruikers hoog op prys en is hy daartoe verbind om nou met hulle saam te werk.

Dinsdagaand se geselligheid by Melrose Arch gaan wel voort. In stede van die nuwe Galaxy Fold gaan Samsung nou sy innoverende nuwe platskermtelevisies ten toon stel.

Meer oor:  Samsung  |  Slimfoon  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.