Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Bel só gratis tydens staat van inperking
Dit is belangrik om uit te reik na vriende en familie tydens die nasionale staat van inperking sodat jy nie te afgesonder voel nie. Foto: Unsplash

Suid-Afrikaners gaan vir minstens die volgende drie weke in hul huise vasgekeer wees tydens die nasionale staat van inperking.

Dit beteken alle nienoodsaaklike beweging word gestaak, selfs tussen die huise van familie en vriende.

Hoewel Suid-Afrikaners fisiek geïsoleerd moet bly, beteken dit nie jy hoef digitaal afgesonder te voel nie.

Hier is ’n paar gratis apps wat familielede, vriende en kollegas kan gebruik om steeds met mekaar in verbinding te bly. Let wel die apps benodig steeds 'n aktiewe internetverbinding om te kan werk, maar die maak van die oproep is gratis. 

1. WhatsApp

Dié alombekende kletsapp is waarskynlik reeds op almal se selfone geïnstalleer. Afgesien van teksboodskappe stuur, is WhatsApp natuurlik ook ideaal om stem- of video-oproepe mee te maak.

Die vangplek is wel dat vanweë die hoë volumes mense wat dit daagliks gebruik, die gehalte van oproepe via WhatsApp nie altyd na wense is nie.

Dit bly wel ’n uitstekende app as jy net vinnig ’n geliefde wil bel om te hoor hoe dit gaan.

Messenger en Instagram, wat albei nes WhatsApp deur Facebook besit word, bied ook die opsie dat vriende mekaar deur dié onderskeie apps kan bel.

Maar nes WhatsApp laat die gehalte van gesprekke soms veel te wense oor en sny dit dikwels uit.

Hoewel al drie hierdie apps deur Facebook besit word, kan jy nie van een platform na ’n ander bel nie. Gesprekke kan plaasvind tussen Facebook-vriende op Messenger, of tussen vriende op Instagram, of tussen kontakte op WhatsApp.

2. Microsoft Teams

Microsoft Teams is nou maar eers drie jaar oud, maar het onlangs meer as 44 miljoen gebruikers op een dag bedien.

Dié syfer was wel te midde van die Covid-19-pandemie.

Dit wys wel die app werk goed en help reeds miljoene mense om te midde van die krisis met mekaar in verbinding te bly.

Teams is gegrond op dieselfde tegnologie as Skype, nog ’n kommunikasiediens wat deur Microsoft besit word.

Nes Skype is Teams gratis om te gebruik en die ideale kommunikasiemiddel vir kollegas om in verbinding te bly terwyl elkeen van die huis af werk.

Tot 50 mense kan gelyktydig aan een oproep op Teams deelneem.

Die oproepe is normaalweg glashelder en sny beslis minder uit as die geval met WhatsApp.

Laai die Teams-app af op Android- of Apple-toestelle om te begin klets.

3. Google Duo

Google Duo is besonder maklik om te gebruik. Jy laai dit eenvoudig af, registreer jou selfoonnommer en jy kan begin oproepe maak.

Die enigste vangplek is natuurlik dat die persoon wat jy wil bel, ook Google Duo moet gebruik.

Hoewel Google Duo deur Google vervaardig word, en normaalweg ingesluit is op enige Android-foon, is dit ook vir Apple-toestelle beskikbaar, wat beteken gebruikers van een toestel kan ’n gebruiker op ’n ander toestel skakel sonder enige probleme.

4. FaceTime

FaceTime is Apple se ingeboude kletsdiens en is net op Apple-toestelle beskikbaar.

Dit sluit in iPhone, iPad of ’n Mac-rekenaar.

FaceTime laat video- en stemoproepe met tot 32 mense op ’n slag toe. Dit beteken as jou hele vriendekring of familie Apple-toestelle het, kan almal gelyktydig saam gesels.

Let wel, nes die ander klets-apps op dié lys vereis FaceTime ’n aktiewe internetverbinding om te werk.

Die maak van die oproep is wel gratis.

5. Ander opsies

Ander opsies wat jy as ’n gesin of vriendekring kan oorweeg, is Viber. Dié Japanse kletsdiens bied ook die opsie dat gebruikers mekaar gratis kan bel, soortgelyk aan WhatsApp.

Nog ’n opsie is Signal, ook ’n gratis diens.

TeamViewer is gratis vir individuele gebruikers, maar nie vir ondernemings wat dit wil gebruik sodat kollegas met mekaar kan kommunikeer nie.

In so ’n geval kan ondernemings dit dalk eerder oorweeg om Zoom te gebruik. Dié diens het ’n gratis opsie waar groepe van tot 100 deelnemers ’n videokonferensie kan hou vir tot 40 minute lank.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Kletsdiens  |  Koronavirus  |  Covid-19  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.