Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Bel só met ’n ander se lugtyd
’n Diens soos Mahalatime maak dit moontlik om oproepe na sekere nommers te maak al het jy geen lugtyd nie. Foto: Unsplash

Is jy moeg daarvoor om te hoor Boet en Sus kon jou nie in die hande kry nie, want hul lugtyd is op?

Of ’n werknemer het sy skof gemis, maar kon jou nie laat weet nie om dieselfde rede?

Die antwoord is Mahalatime, ’n app wat jou toelaat om met iemand anders se lugtyd oproepe te maak.

Dit werk boonop heel eenvoudig: Jy laai beltyd op ’n sentrale platform en wys dit toe aan ’n lys van nommers.

’n Werkgewer kan dus beltyd op Mahalatime aanskaf en dit onder sy werkers versprei.

Oproepe kos so min soos 68c per minuut en die prys word per sekonde bereken. Dit maak ook nie saak watter netwerk die persoon wat gebel word, gebruik nie.

Mahalatime word reeds die afgelope paar jaar deur ’n groep sakelui uit diverse sektore ontwikkel.

Robert Nortman, medestigter en bemarkingshoof, verduidelik Mahalatime het ontstaan juis omdat die manier waarop mense kommunikeer so verander het.

Die maak van stemoproepe is nou uit die mode; die fokus is op datagedrewe kommunikasie.

Maar data is duur, en daarsonder kan gewilde kommunikasieplatforms soos WhatsApp in ieder geval nie werk nie.

Die Mahalatime-app benodig geen data nie, en kan ook op ’n spotgoedkoop basiese slimfoon geïnstalleer word.

Dit werk ook met enige SIM-kaart en op enige selfoonnetwerk.

Die diens is vir eers egter net beskikbaar op Android-toestelle, sê Nortman. Dit is hoofsaaklik omdat Android so ’n groot markaandeel in Suid-Afrika geniet, veral onder laerinkomstegroepe.

Hoe werk dit?

As eienaar van ’n Mahalatime-rekening, koop jy beltyd regstreeks van die onderneming af.

Jy kan dan daardie beltyd aan enige selfoonnommer toedig.

As jy dus ’n span van tien bestuur, kan jy aan elkeen 30 minute per dag toedig waarmee hulle sal kan bel.

Om te keer dat persoonlike oproepe gemaak word, kan jy bepaal watter nommers geskakel mag word met hierdie Mahalatime-beltyd.

Jy kan byvoorbeeld bepaal dat slegs jou eie selfoonnommer, die kantoor se nommer of dié van die plaaslike nooddienste bel kan word.

As ’n werknemer jou dus moet kontak, maar geen van sy eie lugtyd of data het nie, kan hy jou danksy Mahalatime bel, maar hy sal ook nie die diens kan misbruik vir persoonlike gewin nie.

Die diens is ideaal vir die bestuurder van ’n fabriek of afleweringsdiens, waar baie mense in ieder geval op die maatskappy se onkoste van selfoondienste verskaf word, maar waar dié dienste dan ook misbruik kan word.

Danksy Mahalatime sal werknemers enige tyd ’n bepaalde lys nommers kan bel sonder dat hulle self oor enige lugtyd hoef te beskik.

Data in SA ‘te duur’, maar mense bel nog baie

Die ontwikkeling van Mahalatime het begin lank voordat die Mededingingskommissie in Desember gelas het die prys van data in Suid-Afrika is buitensporig hoog.

Maar die diens is in pas met pogings om die koste van kommunikasie goedkoper te maak, sê Nortman.

Daarom is die prys van oproepe op Mahalatime eenvoudig dieselfde, ongeag wie jy bel op enige Suid-Afrikaanse netwerk of selfs ’n landlyn.

Beltyd verval ook eers ná ’n jaar, anders as data wat net twee maande geldig is.

Diensverskaffers het wel in die laaste paar maande die koste van data aansienlik gesny en verskeie e-leer-platforms en aanlyn portale vir werksoekers gratis gemaak om te besoek.

Ten spyte van die tendens van datagedrewe kommunikasie, maak diensverskaffers nog goed geld uit stemoproepe.

Suid-Afrikaanse Vodacom-kliënte het in die boekjaar tot einde Maart byna 54 miljoen minute aan stemoproepe bestee.

En MTN het ’n toename van 4,2% gesien in sy inkomste verdien uit stemoproepe in sy boekjaar tot einde Desember.

Stemoproepe het 46,6% bygedra tot MTN se totale inkomste van meer as R15,1 miljard in die jaar onder oorsig.

Meer oor:  Oproep  |  Diensverskaffers  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.