
WhatsApp het beperkings ingestel op hoeveel keer ’n boodskap aangestuur kan word. Foto: Unsplash
Die beperkings wat WhatsApp vroeër vandeesmaand ingestel het op hoeveel keer gebruikers ’n boodskap kan aanstuur, blyk ’n positiewe impak op die bekamping van fopnuus te hê.
Die getal kere wat boodskappe op die platform aangestuur word, is 70% minder, het ’n woordvoerder aan Business Insider gesê.
WhatsApp het beperkings ingestel op die aantal mense aan wie ’n gebruiker ’n boodskap kan stuur wat hy of sy ontvang het.
Voorheen kon ’n gebruiker so ’n boodskap gelyktydig aan ’n klomp van sy kontakte aanstuur. Nou kan dit net aan een persoon op ’n slag gestuur word.
LEES OOK: WhatsApp plaas perk op aanstuur van boodskappe
Die kletsdiens, wat aan Facebook behoort, het die nuwe beperking ingestel in ’n poging om die verspreiding van fopnuus gedurende die Covid-19-pandemie hok te slaan.
Die nuwe reël geld net boodskappe wat volgens WhatsApp baie vinnig versprei.
’n Boodskap wat nog nie deur baie mense aangestuur is nie, kan steeds na meer as een gebruiker op ’n slag gestuur word.
Sosialemediaplatforms soos WhatsApp, Facebook en Twitter is ’n teelaarde vir die verspreiding van fopnuus en samesweringsteorieë oor die Covid-19-pandemie.
Facebook moes reeds groepe op sy platform sluit wat lede aangemoedig het om selfoontorings te verwoes weens die (ongegronde) teorie dat Covid-19 deur 5G-tegnologie versprei kan word.