Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Betaal nou vir parkeerplek met ’n ‘zap’
Inkopiegangers by verskeie winkelsentrums kan nou met Zapper vir hul parkering betaal.

Inkopiegangers kan nou by van Suid-Afrika se grootste winkelsentrums vir hul parkeerplek betaal met Zapper eerder as om in die rye by die betaalpunte te staan.

Zapper, ’n verskaffer van digitale betaaldienste, is nou met drie verskaffers van parkeerdienste by winkelsentrums geïntegreer, het die maatskappy aangekondig.

Inkopiegangers by onder meer Canal Walk en Cape Gate in Kaapstad, Melrose Arch en Fourways in Johannesburg, en Lynwood Bridge in Pretoria kan nou vir hul parkeerplek daar met Zapper betaal.

Nóg winkelsentrums word binnekort bygevoeg.

Parkeerkaartjies by hierdie winkelsentrums word van ’n QR-kode voorsien.

Sodra jy klaar is met jou inkopies, skandeer jy eenvoudig die QR-kode met Zapper – of jou bank – se app en betaal só vir jou parkeerplek.

Hoe weet Zapper hoeveel jy moet betaal?

Sodra ’n gebruiker die QR-kode met Zapper se app skandeer, word ’n navraag digitaal na die parkeer-operateur gestuur.

Dit verifieer die bedrag betaalbaar, wat dan op die Zapper-app verskyn. Sodra die gebruiker vir die parkeerplek met die app betaal, stuur dit weer ’n kode aan die operateur dat die betrokke parkeerkaartjie betaal is.

Wanneer die kaartjie by die uitgangshek ingevoeg word, kontroleer die stelsel weer of die betrokke kaartjie die een is waarvoor daar betaal is. Sodra dit bevestig is, gaan die hek oop. Dit alles gebeur blitsvinnig.

Net soos die geval nou is met parkeerkaartjies, moet inkopiegangers ook die perseel verlaat binne ’n sekere tyd nadat daar vir die parkeerplek betaal is.

Volgens Brett White, uitvoerende hoof van Zapper, skakel die nuwe betaalmetode die nodigheid uit dat inkopiegangers kontant by hulle moet hê om vir hul parkeerplek te betaal.

Die hantering van daardie kontant kom ook met bykomende koste vir die operateurs en die bestuurders van die winkelsentrum aangesien dit daagliks verhaal en getel moet word.

Hoewel baie parkeermasjiene deesdae oor kaartfasiliteite beskik, beteken dit steeds inkopiegangers moet soms in lang rye by die masjiene wag.

Dit is juis daardie lang rye by die betaalpunte wat Zapper hoop om met sy diens uit te skakel.

Teoreties kan die diens by verskeie persele gebruik word waar daar vir parkeerplek betaal word, insluitende treinstasies en lughawens.

15 000 inkopiegangers het reeds in Oktober vir hul parkeerplek met Zapper by Canal Walk betaal, sê White.

Zapper het al meer as 50 000 betalings by Canal Walk vir parkeerplek verwerk sedert die winkelsentrum in Junie weer geld vir parkeerplek begin vra het.

Meer oor:  Zapper  |  Tegnologie  |  Inkopies  |  App
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.