Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Bitcoin ... bultende digitale beursies

Bitcoin se fenomenale styging van sowat 300% die afgelope jaar laat ’n paar gelukkiges breed glimlag oor hul bultende digitale beursies.

Maren Altman van New York het ’n groot gevolg op TikTok opgebou met haar prysvoorspellings van bitcoin.Foto: Instagram

Tog sê Johan Gouws, hoof van adviesdienste by Sasfin Wealth, dié reusestyging is nie normaal op lang termyn nie. Dit wys die kriptogeld is spekulatief, eerder as ’n belegging.

Daar is tans momentum agter bitcoin en mense wil nie ’n geleentheid misloop nie, maar vra jouself waarom jy bitcoin wil koop, waarvoor jy dit wil gebruik en moenie jou spaar- of aftreegeld daarvoor gebruik nie, sê hy.

Terwyl tradisionele bateklasse trae opbrengste lewer, wend baie hulle tot kriptogeld – waarvan bitcoin die bekendste is – as nog ’n instrument om hul geldwaarde te probeer vermeerder, sê Gouws. Die sterk lopie beteken ook jy koop nou teen ’n baie hoë prys en waarskynlik met onrealistiese verwagtinge. Die gevaar is dat jy in die versoeking is om “die verkeerde geld” te gebruik om bitcoin te koop.

Gouws sê groter wisselvalligheid in die waarde van die kriptogeld is moontlik soos al hoe meer institusionele spelers betrokke raak.

Hy waarsku ook teen die gebruik van tussengangers wat mense se bitcoin hou.

Rapport het onlangs berig sowat R6 miljard van beleggers se geld is soek nadat hulle by ’n beweerde bedrogspul deur Mirror Trading International van die kriptogeld gekoop het.

Gouws sê ondanks die wisselvalligheid en bitcoin se verlies van sowat 26% verlede naweek trek kriptogeld en die blokkettingtegnologie daaragter ál meer aandag. Dit word meer in die hoofstroom genoem, meer inligting raak beskikbaar en só klim al meer mense op die lawaaiwa.

Binne ’n kwessie van weke het bitcoin se prys tussen $30 300 en $42 000 gewissel.

Vrydagoggend was dit net bo $38 300.

Bitcoin se goeie vertoning die afgelope jaar word deels daaraan toegeskryf dat beleggers bekommerd is oor wat met die waarde van geld kan gebeur omdat sentrale banke so baie geld druk om die ekonomiese skade van die Covid-19-pandemie te versag, of omdat hulle politieke vrese het.

Kenners van JPMorgan Chase & Co. se voorspelling dat bitcoin op lang termyn tot $146 000 kan styg, veral as die wisselvalligheid genoegsaam bedaar om meer institusionele beleggers te lok, het waarskynlik ook tot die koopmanie bygedra.

Gouws sê dit is ’n gerieflike verhandelingsmetode en pas in by hoe die res van ons lewens al hoe meer na digitale kanale beweeg.

Bitcoin se gebruik word nie deur landsgrense beperk nie en dit kan as internasionale betaalmiddel gebruik word teen laer koste sonder tussengangers.

Eienaarskap is maklik oordraagbaar vir belastingdoeleindes en die kanse op identiteitsdiefstal en vervalsing is kleiner as met fiat-geld (wat deur regerings en sentrale banke uitgereik en beheer word).

Rael Demby, bedryfshoof van die Scoin Shop, ’n onafhanklike kleinhandelaar wat goue en versamelaarsmunte van oor die wêreld verkoop, sê die winkel aanvaar die afgelope sowat drie maande ook die kriptogeld bitcoin, ethereum, dai en litecoin as betaalmiddel.

Volgens hom verstaan hulle kriptogeld en die stelsels daaragter en sien hoe die wêreld al meer geneë is om dit ’n kans te gee.

Demby sê dit is nou die ideale geleentheid vir mense wat wins op digitale geld gemaak het om dit in die ware jakob soos goud om te skakel.

“Stel dit so: Wenners weet wanneer om te verkoop. So koop goud en behou jou winste.”

Dalings in die prys van bitcoin vroeër die week het opnuut vrae oor die vooruitsig vir die kriptogeldeenheid laat ontstaan.

Een denkrigting glo bitcoin ontwikkel in ’n verskansingsinstrument teen ’n swak dollar en inflasierisiko’s en lok dus langertermynbeleggers, terwyl ander weer ’n borrel vrees.

Maren Altman van New York wat haarself ’n professionele astroloog noem, het ’n groot gevolg op TikTok opgebou met haar prysvoorspellings van bitcoin op grond van wat sy in die sterre sien.Foto: TikTok

’n 22-jarige professionele astroloog en TikTok-beïnvloeder van New York met nagenoeg ’n miljoen volgelinge glo die hemelliggame wys haar wanneer bitcoin-pryswisselinge kan voorkom.

Die aanvallige Maren Altman, ook ’n bitcoin-belegger, volg die laaste paar maande die beweging van hemelliggame om die pryswisseling van bitcoin te voorspel.

Verlede week het sy haar volgelinge gewaarsku oor ’n regstelling in die prys op 11 Januarie weens die spesifieke bewegings van Saturnus en Mercurius.

Op die spesifieke dag het bitcoin sowat 20% se waarde ingeboet voordat dit van die verliese herwin het.

“Ek kan prystrajekte voorspel, maar gee my nie uit as ’n finansiële raadgewer wat bewus is van mense se spesifieke omstandighede nie. Ek gee nie raad oor koop en verkoop nie,” sê sy.

Altman voorsien gunstige aanwysers, veral in Februarie en vroeg Maart, maar teen middel Maart sê die sterre daar kom ’n groot regstelling. Die op-en-af van bitcoin duur voort, want die hemelligame beweeg na ’n bitcoin-bulmark in Mei . . .

Craig Erlam, ’n ontleder en valutahandelaar by OANDA, is skepties oor bitcoin-voorspellings. “Ek dink dis net ’n klomp mense wat na strooihalms gryp en probeer om redes te kry om stygings te voorspel.” Bloomberg

Meer oor:  Markte  |  Beleggings  |  Bitcoin  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.