Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Bitcoin-‘myne’ gebruik meer krag as party lande

Die data-ontginningsproses vir bitcoin-transaksies gebruik meer elektrisiteit as Argentinië, het navorsers bevind.

Die Cambridge-sentrum vir alternatiewe finansies in Brittanje sê bitcoin se energieverbruik is ongeveer 108,4 terawatt-uur, berig Bloomberg. “As bitcoin dus ’n land was, sou sy koolstofspoor gelykstaande aan dié van Nieu-Seeland wees.”

’n Bitcoin-“myn” in Sichuan, China.Foto: Getty Images

Die rede vir bitcoin se massiewe energieverbruik is die ingewikkelde wiskundige berekeninge wat rekenaars vir transaksies in die kriptogeldeenheid moet doen. Een bitcoin-transaksie is gelykstaande aan die CO2-vrystelling wat 706 765 transaksies met ’n Visa-kredietkaart sou genereer, toon ’n indeks van Digiconomist.

Voorstanders van beleggings in kriptogeld voer aan dit is ’n manier om waarde te stoor en as ’n verskansing teen inflasie en krisistye te dien – nes goud, berig businessinsider.com.

Ontleders van Goldman Sachs is egter skepties daaroor om dié status aan kriptogeld toe te dig. “Een van die probleme wat bitcoin het, is dat baie beleggers daarvan wegskram weens die geweldige elektrisiteitsverbruik.”

Terwyl meer beleggers begaan is oor die impak wat die maatskappye waarin hulle belê op die omgewing en samelewing het, kan bitcoin hom dus nie daarop roem dat hy aan omgewings-, maatskaplike en goeie-bestuursvereistes, oftewel ESG-verantwoordelikhede, voldoen nie.

“Die meeste van die data-ontginners van bitcoin is in China gesetel,” het Mike Adsetts, adjunkbeleggingshoof by Momentum Investments, aan Rapport gesê. China is ’n ideale bestemming vir bitcoin-data-ontginners, want elektrisiteit is daar goedkoop en minder belasbaar. Dit word merendeels by steenkoolkragstasies opgewek. Die Cambridge-sentrum raam 38% van elektrisiteit wat in die data-ontginningsproses gebruik word, kom van steenkool.

“Bitcoin sê hy onderskryf deursigtigheid, maar openlikheid is nie ’n beginsel wat ’n mens met China assosieer nie,” sê Adsetts.

Die data-ontginningsproses wat Bitcoin vir transaksies gebruik, verbruik meer energie as ’n land soos Argentinië. Foto: iSTOCK

Charles Hoskinson, uitvoerende hoof van IOHK, ’n kriptografiemaatskappy, sê bitcoin se koolstofspoor sal eksponensieel groter word soos wat die prys toeneem, berig The Independent.

Baie beleggers en batebestuurders krabbel egter terug en voer aan bitcoin werk kliphard aan ’n oplossing vir sy enorme energieverbruik, soos om data-ontginning te doen vanuit lande wat herwinbare energie gebruik.

In Ysland en Noorweë, waar alle energie van herwinbare bronne kom, gebruik data-ontginners van bitcoin goedkoper hidroëlektriese en geotermiese energie vir hul rekenaars.

Kondi Nkosi, Suid-Afrikaanse hoof van Schroders, ’n internasionale batebestuurder, sê as ’n enkele belegging of beleggingsfonds nie aan die ESG-verantwoordelikhede voldoen nie, het beleggers twee opsies: óf hulle onttrek hul geld óf hulle kies om ’n “pad saam met die onvolhoubare maatskappy te stap” en druk uit te oefen dat die praktyke uiteindelik wel aan die ESG-vereistes voldoen.

Dit is uiteindelik beter vir almal as beleggers eerder druk uitoefen dat maatskappye hul onvolhoubare praktyke staak, sê Nkosi.

“Die hele ekostelsel van beleggings moet verander om dit volhoubaar te maak. Dit geld beleggers wat geld in ’n maatskappy instoot, banke wat lenings toestaan, die verbruikers van produkte en ook ons as batebestuurders.”

Meer oor:  Elektrisiteit  |  Bitcoin  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.