Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Blue Label glimlag breed sonder Cell C op sy boeke
Cell C sukkel steeds om van ’n berg skuld ontslae te raak. Foto: Getty Images

Blue Label Telecoms het binne ses maande van ’n aansienlike wesensverlies per aandeel tot ’n wins van byna 40c per aandeel omgekeer.

Dit is hoofsaaklik te danke daaraan dat Blue Label die volle drawaarde van sy belegging in die sukkelende diensverskaffer Cell C in Mei 2019 afgeskryf het.

Cell C se beroerde geldsake en groeiende skuldlas het dus nie meer ’n impak op Blue Label se boeke nie.

Blue Label het Vrydag sy tussentydse resultate vir die ses maande tot einde November uitgereik. Dit is die eerste stel resultate wat hy uitreik ná die afskrywing van sy belegging in Cell C.

Sy inkomste is 12% hoër op R30,3 miljard, en sy wins 10% hoër op R1,2 miljard.

Sy verdienste per aandeel en wesensverdienste per aandeel het onderskeidelik van ’n verlies van 15,11c en 17,54c tot ’n wins van 34,83c en 39,98c omgekeer.

Enige verdere finansiële verliese van Cell C het hom nie in die ses maande onder oorsig geraak nie, sê Blue Label in ’n verklaring.

Tog toon Cell C ’n effense verbetering in sy inkomste. Dit is in die ses maande tot einde November 1% hoër op R7,3 miljard.

Cell C het egter nie Vrydag sy volledige stel resultate uitgereik nie. Hy beplan om afsonderlik rondom 23 Maart sy finansiële resultate vir die jaar tot einde Desember uit te reik.

Zaf Mohamed, finansiële hoof van Cell C, het wel Vrydag by ’n voorlegging deur Blue Label Telecoms se uitvoerende hoof gesê die diensverskaffer is oorgehaal om weer winsgewend te word.

Onderhandelinge met sy krediteure duur steeds voort, al het Cell C in Desember versuim om die rente op sy berg skuld te betaal.

cell c

Cell C se aantal intekenare is ook besig om af te neem, maar die diensverskaffer beskou dit nie as rede tot kommer nie.

“Ons het vir ’n lang tyd intekenare ten alle koste nagejaag,” sê Mohamed.

Die netwerk fokus nou eerder daarop om ’n goeie diens aan sy bestaande kliënte te lewer en daardeur ’n positiewe kontantvloei te handhaaf.

Mark en Brett Levy, uitvoerende hoofde van Blue Label Telecoms, het Vrydag herhaal dat die maatskappy glo Cell C se onlangse ooreenkoms met MTN om meer van dié se selfoontorings te gebruik, gaan ’n groot kostebesparing vir Cell C beteken.

Cell C en MTN het die ooreenkoms in November 2019 aangegaan, waarvolgens eersgenoemde sy hele netwerkinfrastruktuur na MTN s’n oordra.

Hoewel Cell C MTN vir die diens betaal, bespaar hy miljoene aan instandhoudingskoste en op die uitbreiding van sy eie netwerk.

Cell C het die mark einde Januarie ingelig dat hy nie die rente kan betaal op sy skuld van meer as $184 miljoen wat hy in Desember moes betaal nie.

LEES OOK: Cell C stop betaling van rente aan beleggers

Die diensverskaffer het nog heelwat skuld waarop hy voorheen ook nie die rente kon bybring nie.

Cell C het wel aangedui dat die wanbetaling van die rente deel is van sy oorhoofse strategie om sy likiditeit te verbeter en sy balansstaat te herstruktureer.

Die lenings is nog nie opgeroep deur sy krediteure, wat verskeie banke insluit, nie.

Volgens die Levy-broers is dít, tesame met Cell C se ooreenkoms met MTN, van die vernaamste redes vir waarom Blue Label “vol vertroue” is dat Cell C nie sal ondergaan nie.

“Die herkapitalisering en/of herstrukturering van Cell C se skuld is egter noodsaaklik om te keer dat die rente op sy skuld weer nie terugbetaal word nie.”

Blue Label het intussen onafhanklike spesialiste aangestel om die waarde van sy belang in Cell C te ondersoek.

Die maatskappy het die waarde van sy belang in Mei 2019 op R0 gereken. In November 2019 beskou hy die waarde steeds as R0.

Sou Cell C sy skuld delg, herkapitaliseer en winsgewend word, sal Blue Label waarskynlik dié waarde positief aanpas.

Blue Label Telecoms se aandeelprys het nie Vrydag juis geroer nie en was in ’n stadium 1% hoër op R2,45.

Meer oor:  Cell C  |  Blue Label Telecoms  |  Diensverskaffer  |  Tegnologie  |  Resultate  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.