Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Blue Label sink verder weens Cell C se skuld
Cell C se skuldlas knou MTN en Blue Label Telecoms.

Blue Label Telecoms het Maandag aangekondig hy gaan sy jongste resultate vir die jaar tot einde Mei ’n maand later as verwag uitreik.

Dit is omrede die maatskappy nog besig is om die waarde van sy belegging in die beleërde selfoonmaatskappy Cell C te bepaal.

Cell C stoei die laaste paar jaar met ’n groeiende skuldlas en ’n krimpende bedryfswins wat ook Blue Label se inkomste knou.

Blue Label besit ’n belang van 45% in Cell C nadat die maatskappy in 2017 ’n reddingsboei van sowat R5,5 miljard na die diensverskaffer gegooi het.

Blue Label moes intussen bykomende aandele uitreik om dié reddingsboei te finansier.

Cell C se skuld het reeds Blue Label se kernwesensverdienste met meer as R1,05 miljard in die boekjaar tot einde Desember verlaag.

Luidens ’n verklaring Maandag op die JSE se nuusdiens Sens reken Blue Label sy kernwesensverdienste per aandeel vir die jaar tot einde Mei gaan eweneens daal, waarskynlik met meer as 20%.

Douglas Craigie Stevenson, die pas aangestelde nuwe uitvoerende hoof van Cell C, het in Julie in ’n ope brief aan joernaliste en beleggers erken die diensverskaffer is in ’n beduidende finansiële penarie.

Dit sluit in skuld van etlike miljoene aan MTN wat van sy infrastruktuur aan Cell C uitverhuur.

Luidens MTN se jongste resultate skuld Cell C hom reeds bykans R400 miljoen in agterstallige betalings. MTN het reeds R211 miljoen van dié skuld afgeskryf.

Volgens die diensverskaffer kyk hy tans na ’n “volhoubare oplossing” vir sy ooreenkoms met Cell C waarvolgens laasgenoemde sy netwerkinfrastruktuur, insluitend selfoontorings, gebruik.

Cell C is tans besig om onderhandelinge met sy krediteure te voer en ondersoek ook die moontlikheid van herkapitalisering.

Die uitkoms van hierdie gesprekke kan ’n wesenlike impak hê op die waardasie van sy belegging in Cell C, sê Blue Label.

Cell C is tans besig om sy jongste finansiële resultate af te handel. Dié diensverskaffer is egter onder geen verpligting om dit te openbaar nie, siende die maatskappy nie genoteer is nie.

Blue Label sal sy resultate vir die jaar tot einde Mei nou op 26 September uitreik, bykans ’n maand nadat dit aanvanklik uitgereik moes word kragtens die JSE se bepalings.

Die maatskappy se aandeelprys was Maandagmiddag bykans 3% laer op R3,32.

Meer oor:  Blue Label Telecoms  |  Cell C  |  Skuld  |  Diensverskaffer  |  Selfoonmaatskappye  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.