Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Blue Label skryf hele belegging in Cell C af

Die genoteerde telekommunikasiegroep Blue Label Telecoms gaan in die boekjaar tot einde Mei ’n groot verlies ly weens sy belegging in Cell C.

Blue Label verkoop onder meer voorafbetaalde lugtyd, data en elektrisiteitbewyse.

Blue Label het ’n handelsverklaring uitgereik wat die invloed van Cell C op sy resultate wys.

Sy resultate is reeds langer as die vereiste tyd laat en as hy nie voor einde September sy resultate uitreik nie sal sy notering op die JSE opgeskort word.

Blue Label het in Augustus 2017 sy belang van 45% in Cell C teen R5,5 miljard bekom. 

In die boekjaar tot einde Mei 2018 het Blue Label Telecoms ’n wins per aandeel van 116,12c getoon. Dit gaan in die boekjaar tot einde Mei vanjaar omswaai in ’n verlies wat so groot as 725,81c kan wees.

Die grootste deel van die verlies word toegeskryf aan Cell C se bedryfsverlies en die afskryf van sy bates, asook Blue Label se afskryf van sy belegging in die selfoonoperateur.

Ander faktore wat tot die verlies bydra sluit in die afskryf van Blue Label se totale belegging in die Oxigen India-groep, insluitende 2Dfine Holdings Mauritius.

Die verlies word ook toegeskryf aan gedeeltelike afskrywings van die klandisiewaarde wat met Viamedia en Blue Label Connect te doen het, asook die gedeeltelike afskrywing van die belegging in die SupaPesa- gesamentlike onderneming.

As die invloed van dié faktore uitgesluit word, verwag Blue Label sy kernwesensverdienste gaan tussen R885 miljoen en R922 miljoen wees. Dit is tussen 24% en 29% meer as die R716 miljoen van die vorige boekjaar.

As die toename in die geweegde gemiddelde aantal aandele in berekening gebring word, is die verhoging per aandeel tussen 16% en 21%.

Blue Label sê die herkapitalisering van Cell C is nog nie voltooi nie.

Sy aandeelprys het Donderdag met 5% gestyg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.