
Britse burgers wat ná Brexit in Europa gaan vakansie hou, gaan meer moet opdok om hul selfone te gebruik as voorheen.Foto: Getty Images
Brexit het nog ’n onvoorsiene gevolg: hoër selfoonrekeninge vir die Britte.
As deel van die Europese Unie (EU) kon Britse burgers hul selfone vrylik in ander lidlande gebruik sonder vrees vir buitensporig hoë koste, al het hulle op ander lande se netwerke geswerf.
EU-regulasies bepaal selfoondiensverskaffers mag nie hul kliënte meer vra as hulle van ’n selfoonnetwerk in ’n ander land gebruik maak nie. ’n Fransman wat sy selfoon in Ierland gebruik, moet dus steeds dieselfde betaal vir oproepe en data as wat hy in Frankryk sou betaal.
Wanneer Brittanje die EU einde Maart verlaat, geld dié vergunning nie meer vir Britte nie.
Brittanje se departement van kultuur, media en sport het pas ’n memorandum uitgereik oor wat selfoongebruikers kan verwag wanneer Brittanje die EU verlaat. Dit behels onder meer dat Britse selfoondiensverskaffers nie meer teen geen ekstra koste dienste aan burgers beskikbaar hoef te stel in ander EU-lidlande nie. ’n Brit wat ná 29 Maart in Europa reis en sy selfoon gebruik, sal dus heelwat meer vir oproepe en data betaal as tans.
Brittanje stel wel ’n perk op hoe hoog diensverskaffers gebruikers se rekeninge kan opjaag terwyl hulle buite die land reis. Sodra ’n gebruiker £45 (sowat R800) bestee het, moet die netwerk sy dienste opskort, tensy die gebruiker pertinent instem dat hy bereid is om meer te betaal.
Die hoop is dat Britse netwerke ooreenkomste met hul Europese eweknieë sal sluit om koste in toom te hou, hoewel hulle nie verplig kan word om dit te doen nie.
Verbruikersgroepe het die Britse regering gesmeek om te sorg dat Britte nie meer sal moet betaal vir selfoongebruik in EU-lidlande indien ’n Brexit-ooreenkoms nie bereik word nie.
Die regering het egter nadat hy “mooi daaroor gedink het” besluit om nie met die EU hieroor te onderhandel nie, berig The Guardian.
Dit beteken hoër selfoonkoste is sonder twyfel die Britte se voorland.