Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Byna 11 m. hotelgaste se inligting lek
Die MGM Grand-hotel-en-casino in Las Vegas.Foto: Unsplash

Die persoonlike besonderhede van 10,6 miljoen gaste wat in ’n verskeidenheid van MGM Resorts se hotelle oornag het, is deur kuberkrakers bekom.

ZDNet het Woensdag eerste berig dat kuberkrakers die hotelgroep se stelsels binnegedring het en gaste se inligting, insluitende hul name, huisadresse, telefoonnommers en e-posadresse bekom het.

Bekendes soos Justin Bieber en Jack Dorsey, uitvoerende hoof van Twitter, se inligting is glo ook so deur die booswigte bekom.

Die kuberkrakers het hul vonds vroeër vandeesweek op ’n aanlyn gespreksforum bekend gemaak, berig The Guardian.

Die besonderhede van “gereelde toeriste”, verslaggewers en selfs agente van die Amerikaanse speurdiens is glo in die hande gekry.

’n Woordvoerder van die hotelgroep het aan die BBC gesê MGM Resorts is “vol vertroue” dat geen finansiële besonderhede soos kredietkaartnommers in die verkeerde hande beland het nie.

Die presiese getal gaste wat by die voorval betrek word, is ook nog nie bekend nie. Dit is egter etlike miljoene en word tans op meer as 10 miljoen geraam.

Dié mense het enige tyd “voor 2017” in ’n hotel van MGM oornag.

Gaste wat sedertdien in ’n MGM-hotel oornag het, se inligting is nie deel van die “vonds” wat die kuberkrakers gesteel het nie.

MGM bestuur ’n luukse hotel in Las Vegas in die Amerikaanse deelstaat Nevada, sowel as op ander plekke oor die VSA heen. Die groep besit ook hotelle in Japan en China.

Die hotelgroep sê hy het reeds Julie 2019 ontdek dat iemand toegang tot sy stelsels verkry het en dat ’n “beperkte hoeveelheid persoonlike inligting van gaste” gesteel is.

Die groep het glo in Augustus 2019 sowat 1 300 gaste daarvan ingelig dat daar van hul “sensitiewe inligting”, insluitende paspoortnommers, bekom is. Nog 52 000 gaste is verwittig dat “nie-sensitiewe inligting” van hulle bekom is.

Die ander gaste wat geraak is, is nou nog nie daaroor ingelig nie.

Amerikaanse wetgewing wissel van deelstaat tot deelstaat, maar in talle van die state hoef maatskappye nie die slagoffers van ’n kuberaanval te verwittig dat hul inligting bekom is nie.

Die jongste voorval is nie naastenby so omvangryk soos die geval by die internasionale hotelgroep Marriott in 2018 nie. Netwerk24 het toe berig kuberkrakers het toegang tot die inligting van tot 500 miljoen hotelgaste gekry nadat hulle die hotelgroep se besprekingstelsel binnegedring het, waarop inligting van al sy gaste sedert 2014 geberg is.

Meer oor:  Kuberaanval  |  Kuberkrakers  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.