Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
‘Cell C gaan nié vou,’ beloof hoof
Cell C se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg. Foto: Elvira Wood

Kliënte van Cell C hoef nie bekommerd te wees nie – hy gaan nie oornag sy deure sluit nie.

Douglas Craigie Stevenson, uitvoerende hoof van Cell C, het dié versekering Vrydag aan Netwerk24 gegee – ’n week ná die uitreiking van die maatskappy se powere resultate vir die afgelope boekjaar.

Cell C se nabelaste netto verlies het tot meer as R8 miljard toegeneem in die boekjaar tot einde Mei. Daarby beloop sy skuld nou R8,24 miljard teenoor R7,44 miljard ’n jaar gelede.

LEES OOK: Cell C skuld R8,2 miljard maar 'daar is hoop'

Volgens Stevenson is dit “hoogs onwaarskynlik” dat kliënte van Cell C net skielik afgesny sal word van die netwerk. “Cell C sal voortgaan om sy kontraktuele verpligtinge teenoor kliënte na te kom ondanks die maatskappy se finansiële probleme.”

Netwerk24 het Stevenson gepols oor die toekoms van Cell C, op twee na Suid-Afrika se grootste selfoonnetwerk gegrond op aantal intekenare.

“Cell C het byna 16 miljoen kliënte wat op sy uitstekende diens en produkaanbod staatmaak. Daar is geen rede tot kommer dat dit in die toekoms gaan verander nie,” sê Stevenson.

Cell C se geldelike penarie het ’n lang aanloop.

Jose dos Santos, wat jare lank die uitvoerende hoof was, het in Februarie skielik sy bedanking ingedien.

Die diensverskaffer se nuwe bestuurspan het verlede week op ’n voorlegging die versekering gegee dat Cell C op die herstelpad is.

’n Ooreenkoms is met MTN aangegaan waarvolgens Cell C van MTN se netwerkinfrastruktuur en -torings gebruik.

Volgens Stevenson het Cell C doelbewus besluit om eerder 3G- en 4G-dekking te koop as om infrastruktuur in veral plattelandse gebiede op te rig.

Dié stap word gedoen om geld te bespaar, maar Cell C se ooreenkoms met MTN het juis sy geldkoffers leeggetap en 32% van sy regstreekse uitgawes in die afgelope boekjaar behels.

Na wat berig word skuld Cell C MTN nog etlike miljoene rande ingevolge hul ooreenkoms.

Gebruikers wat ’n swak selfoonsein ervaar, het ook begin wonder of MTN doelbewus dienste ontwrig omdat Cell C hom geld skuld.

Volgens Stevenson is Cell C egter “op datum” met sy betalings aan MTN en het die twee maatskappye ’n “stewige verhouding”.

“Daar is geen rede waarom MTN dienste aan Cell C sal sny of inperk as deel van die ooreenkoms nie.”

Trouens, die verhouding tussen die maatskappye is so goed dat verdere onderhandelinge reeds plaasvind waarvolgens Cell C nóg van MTN se infrastruktuur gaan benut.

Meer besonderhede hieroor word in die komende weke verwag.

Geen planne om saam te smelt

Hoewel Cell C en MTN se verhouding van krag tot krag gaan, is daar geen planne dat die twee maatskappye gaan saamsmelt nie, sê Stevenson.

“Cell C posisioneer hom as ’n sterk deelnemer in die bedryf tot voordeel van sy kliënte.”

Die telekommunikasiemark in Suid-Afrika word oorheers deur Vodacom en MTN, wat beteken dat Cell C van meet af aan op die agtervoet was. Die diensverskaffer het reeds ’n paar keer in die verlede amper ondergegaan.

Blue Label Telecoms het in 2015 ’n belang van 45% in Cell C bekom vir nagenoeg R5,5 miljard.

Dié belegging het egter tot dusver geen vrugte gedra nie, eerder Blue Label se verdienste lelik geknou. Die telekommunikasiereus het reeds sy belegging in Cell C effektief afgeskryf.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.