Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Cell C gee ook gratis data, maar verlaag nie pryse
Cell C is Suid-Afrika se derde grootste diensverskaffer gegrond op sy getal intekenare. Foto: Getty Images

Cell C gaan al sy intekenare ’n gratis hoeveelheid data elke dag gee, maar het nog nie aangedui hoeveel nie.

Die diensverskaffer het Woensdag aangekondig hy het ’n ooreenkoms met die Mededingingskommissie aangegaan oor hoe hy sy intekenare sal help om die hoë koste van data te oorbrug.

In die geval van Cell C sluit dit egter nie in dat hy sy datapryse verder gaan verlaag nie.

Die kommissie het in Desember bevind data in Suid-Afrika is te duur en al die diensverskaffers, maar veral Vodacom en MTN, aangesê om met voorstelle vorendag te kom van hoe hulle die hoë datapryse wil takel.

Afgesien van ’n gratis hoeveelheid data elke dag, maak Cell C kommunikasie tussen intekenare gratis met die Cell C-app.

Dit geld net as albei persone op die Cell C-netwerk is en die app gebruik.

Cell C sal wel ’n gratis SMS aan ’n intekenaar stuur wat nie tans op die app is nie sou ’n ander gebruiker aan hom ’n boodskap binne die app stuur.

Voorts gee Cell C ook vyf gratis SMS’e per dag aan al sy vooruitbetaalde intekenare.

Toegang tot ’n basiese weergawe van Facebook is ook gratis.

Dié nuwe reëlings geld vanaf 1 Mei vir al sy vooruitbetaalde intekenare, sê Cell C.

Wat doen Cell C nog?

Die diensverskaffer maak ook verskeie webwerwe van veral opvoedkundige instellings gratis om te besoek volgens die kommissie se vereistes.

Verskeie webwerwe van die nasionale regering sal ook geen data benodig nie, insluitend sassa.gov.za en die webwerf van die departement van opvoeding en gesondheid.

Die Suid-Afrikaanse depressie-en-angs-stoornisgroep (Sadag) se webwerf is ook vanaf 1 Mei gratis om te besoek (met ander woorde dit benodig geen data nie).

Dit geld ook die webwerf van die Dierebeskermingsvereniging (DBV).

Cell C sal ook deursigtigheid bied aan intekenare om te sien presies hoeveel hulle per megagreep data betaal. Dit geld sowel vooruitbetaalde as kontrakkliënte.

Dit gaan wel tussen ses en nege maande neem om die platform te implementeer waarop intekenare dié inligting kan kry.

Intekenare sal ook nie hul gratis daaglikse toelaag data op stromingsdienste soos Netflix, Showmax of musiekstormingsdienste soos Spotify of Apple Music kan gebruik nie.

Hoekom verlaag Cell C nie die prys van sy data nie?

Anders as Vodacom en MTN het Cell C nie aangekondig hy gaan die effektiewe prys per megagreep van enige van sy databondels verlaag nie.

Volgens die diensverskaffer bied hy reeds sedert 2018 bekostigbare pryse en het die kommissie met hom saamgestem op daardie punt.

Vodacom het verlede maand aangekondig hy sny vanaf 1 April die prys van verskeie van sy databondels met tot 40%.

MTN sny weer die prys van sy bondels met tot 50%.

Die kommissie het ook bevind dat Telkom nie die prys van sy data verder hoef te verlaag nie.

Dié diensverskaffer het ook volgens die kommissie se aanbevelings verskeie webwerwe gratis gemaak om te besoek en aangedui hy gaan sy intekenare ook begin inlig presies hoeveel hulle aan data per maand bestee.

Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Telkom  |  Datapryse  |  Tegnologie  |  Diensverskaffers  |  Data
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.