SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Tegnuus
Cell C-krediteure druk dat hy Telkom-aanbod aanvaar
Cell C se hoofkantoor in Woodmead, Johannesburg.Foto: Elvira Wood

Cell C se krediteure aanvaar nie nee vir ’n antwoord nie nadat die diensverskaffer verlede week ’n aanbod van Telkom om hom oor te neem, van die hand gewys het.

Volgens persone met kennis van die saak het senior skuldeisers die prokureursfirmas Linklaters en DLA Piper aangestel om Cell C te oorreed om Telkom se aanbod te aanvaar.

Die krediteure is by magte om Cell C te keer om alternatiewe opsies te oorweeg in sy voortgesette pogings om te herkapitaliseer. Hulle kan selfs die beleërde diensverskaffer tot in sakeredding dwing sou daar nie gehoor gegee word aan hul vereistes nie.

Sou Telkom Cell C oorneem, sal dit sowat R0,86 tot die rand aan leners teruggee. As Cell C egter voortgaan met sy plan om ’n ooreenkoms met die plaaslike beleggingsfirma Buffet Group aan te gaan, kan dit beteken dat banke en ander krediteure meer geld verloor.

Krediteure eis ook dat die bestuur van Cell C onafhanklik optree van die maatskappy se grootste aandeelhouer, Blue Label Telecoms, wat minstens 45% van Cell C besit.

“Cell C se direksie word deurlopend deur verskillende partye genader en ons bly gefokus op die uitvoering van ons omkeerstrategie,” het Cell C op die bewerings gereageer.

Hy het ook herhaal dat hy onafhanklike finansiële en regsadviseurs aangestel het om sy krediteure se belange te verteenwoordig.

Cell C se direksie word deurlopend deur verskillende partye genader en ons bly gefokus op die uitvoering van ons omkeerstrategie.

Volgens Cell C is “konstruktiewe gesprekke oor herkapitalisering” steeds aan die gang.

Linklaters en DLA Piper wou nie kommentaar lewer nie. Die Buffet Group kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Telkom het aangedui daar was geen verdere kommunikasie van Cell C se kant af oor die saak nie.

Dit is nie die eerste keer dat Cell C ’n aanbod van Telkom van die hand wys nie.

Cell C het ’n paar jaar gelede ’n soortgelyke aanbod van die hand gewys en gekies om eerder ’n belegging van Blue Label te aanvaar in ruil vir ’n belang van 45%.

Cell C het in Julie versuim om die rente op sy skuld te betaal, wat daartoe gelei het dat die kredietgradeerder S&P Global hom as ’n wanbetaler aangedui het.

Die maatskappy, wat sowat R15 miljard in inkomste genereer, sukkel om sy skuld van ongeveer R9 miljard te delg.

“Die herstruktureringsproses behels vertroulike gesprekke met verskillende belanghebbendes, waaronder Cell C se direksie, aandeelhouers, finansierders en adviseurs,” het die diensverskaffer Maandag by navraag aan Bloomberg gesê.

“Ons erken die openbare belang in Cell C se herstrukturering. Ons versoek egter vertroulikheid in die proses en sal die mark mettertyd inlig oor die stand van sake.”

Cell C het verlede maand ook ’n uitgebreide ooreenkoms met MTN aangegaan waarvolgens hy meer van dié diensverskaffer se netwerkinfrastruktuur gebruik gaan maak.

As deel van die ooreenkoms sal Cell C tot R5 miljard per jaar aan MTN moet betaal.

Die maatskappy se krediteure is glo nie die kans gebied om die ooreenkoms na te gaan voordat dit beklink is nie.

Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Telkom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.