Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Cell C kry skuld vir Net 1 se later resultate

Die tegnologiegroep Net 1 gaan die uitreiking van sy resultate vir die boekjaar tot einde Junie met twee weke vertraag omdat daar gewag word vir duidelikheid oor transaksies waarmee Cell C besig is.

Cell C is besig met transaksies wat sy skuldlas dalk gaan verminder.

Net 1 UEPS Technologies hou ’n belang in Cell C.

Net 1 sou sy resultate vir sy vierde kwartaal en vir die boekjaar – albei tot einde Junie – Donderdag 12 September uitgereik het.

Hy het Dinsdag, twee dae voordat die resultate uitgereik sou word, aangekondig hy stel dit tot 26 September uit sodat groter duidelikheid gekry kan word oor ’n voorgestelde transaksie by Cell C. Dit hou waarskynlik verband met ’n nuwe belegger in die sukkelende selfoonmaatskappy.

Dit kan na verwagting die drawaarde van Net 1 se belegging in Cell C wesenlik beïnvloed. Die maatskappy het in die boekjaar ’n 15%-belang in Cell C vir sowat R2 miljard bekom. ’n Aanvanklike belegging van sowat R1 miljard is ook gedoen om 45% in DNI te bekom. Dit is later tot 55% vergroot. DNI is die grootste verspreider van Cell C se aansluitingspakkette. DNI is nou ’n bedryfseenheid van Net 1.

Die belegging in Cell C is deur ’n kombinasie van kontant en lenings van Suid-Afrikaanse banke gefinansier.

Blue Label Telecoms, wat 45% van Cell C besit, het op 19 Augustus aangekondig die bekendmaking van sy resultate word ook vertraag weens die probleme by Cell C.

Ook Blue Label Telecoms het gesê hy is nog besig om die waarde van sy belegging in Cell C te bepaal.

Cell C stoei die afgelope paar jaar met ’n groeiende skuldlas en ’n krimpende bedryfswins, wat ook Blue Label se inkomste knou.

LEES OOK: Blue Label sink verder weens Cell C se skuld

Tech Central berig die transaksie hou moontlik verband met die aankondiging in Februarie vanjaar dat die Buffet Consortium ’n minderheidsbelang in Cell C wil koop.

Die gesprekke oor die transaksie duur voort, maar vorder, het sowel Cell C as Blue Label gesê.

In September verlede jaar het Net 1 sy syfers vir die boekjaar tot einde Junie 2018 heraangegee nadat sy jaarverslag uitgereik is. Dit was weens ’n fout met die boekhou-hantering van sy belegging in Cell C.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.