Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Cell C ly groot verlies, maar genereer meer kontant
Cell C se finansiële posisie is besig om te verbeter. Hy hoop steeds om sy herkapitalisering binnekort af te handel. Foto: Getty Images

Die sukkelende diensverskaffer Cell C het ’n netto verlies van bykans R7,6 miljard in die ses maande tot einde Junie gely.

Dit is hoofsaaklik weens ’n waardedaling van R5 miljard in sommige van sy bates, insluitende netwerkinfrastruktuur, het Zaf Mahomed, finansiële hoof, Dinsdag op ’n voorlegging oor die groep se halfjaarresultate gesê.

Omdat die waardedaling eenmalig is, het Cell C se genormaliseerde verdienste eintlik met 64% tot R1,8 miljard gestyg, het Mahomed bygevoeg.

Totale inkomste is 8% laer op R6,9 miljard teenoor R7,5 miljard in die ooreenstemmende tyd ’n jaar gelede.

Bedryfsinkomste, wat 89% van Cell C se totale inkomste uitmaak, het ook gedaal en is nou 6% laer as in die ooreenstemmende tyd.

Die maatskappy genereer wel genoeg kontant en het geen verdere lenings aangegaan in die tydperk onder oorsig nie. Sy fokus is nou uitsluitlik op intekenare wat winsgewend is en om koste verder te besnoei.

Verdere daling in intekenare

Cell C se getal vooruitbetaalde kliënte is nou 35% minder as ’n jaar gelede.

Telkom het Cell C onlangs verbygesteek en is nou Suid-Afrika se derde grootste diensverskaffer op grond van sy getal intekenare.

Cell C het in die ses maande tot einde Junie 4,4 miljoen vooruitbetaalde kliënte verloor. Sy getal kontrakkliënte het ook van 1,1 miljoen in Junie 2019 tot 968 000 aan die einde van Junie vanjaar gedaal.

Hy het toe 8,3 miljoen vooruitbetaalde kliënte gehad. Dit het intussen tot 9,053 miljoen teen 30 September vermeerder.

Douglas Craigie Stevenson, uitvoerende hoof, sê hy is wel nie te bekommerd oor hierdie daling in sy getal intekenare nie.

As deel van Cell C se omkeerstrategie, wat nou alreeds 18 maande aan die gang is, fokus Cell C eerder op intekenare wat gemiddeld meer bestee.

Volgens Craigie Stevenson het Cell C begin om al sy intekenare “te rasionaliseer” en hy fokus nou net op daardie intekenare wat winsgewend is.

“ ’n Sim-verbinding beteken nie die gebruiker is ’n volhoubare of winsgewende intekenaar nie.”

Al het sy getal intekenare dus gedaal, kon Cell C sy gemiddelde inkomste per gebruiker (Arpu) vir vooruitbetaalde gebruikers met 27% tot R66 per maand verhoog. ’n Jaar gelede het hy net R52 per vooruitbetaalde intekenaar verdien.

Hy verdien ook nou 9% meer per kontrakkliënt as ’n jaar gelede.

Uitgawes besnoei, werkers afgelê, winkels sluit

cell c

Cell C het die afgelope ses maande die gordel al hoe stywer ingetrek en bedryfsuitgawes tot op die been gesny. Regstreekse uitgawes is 13% laer en beloop nou R3,4 miljard teenoor R3,9 miljard ’n jaar gelede.

Administratiewe uitgawes is wel bykans onveranderd op R1,2 miljard.

Cell C is steeds besig met ’n grootskaalse herstruktureringsproses by sy hoofkantoor, sowel as in sy winkels. Hy het in Augustus aangekondig hy gaan 128 van sy winkels landwyd sluit en in die proses nagenoeg 546 werkers aflê.

Dit gaan egter nie oornag gebeur nie en vind in fases plaas, sê Craigie Stevenson. “Covid-19 het die manier waarop verbruikers aankope doen, heeltemal verander.”

Intekenare gaan nie meer na fisieke winkels om kontrakte uit te neem of ander Cell C-dienste te bekom nie; net soos in die geval van die bankbedryf handel mense sulke transaksies nou aanlyn af.

“Tensy jy meer met ’n winkel kan doen as net kontrakte verkoop, is daar geen punt om dit in bedryf te hou nie.”

In ’n afsonderlike afleggingsproses word sowat 960 werknemers, oftewel 40% van sy werkmag van nagenoeg 2 500 mense, by sy hoofkantoor in Johannesburg geraak.

Die herstruktureringsproses kos Cell C al R64,2 miljoen en is nog nie afgehandel nie, het Craigie Stevenson Dinsdag gesê. Die sloerende herkapitalisering van die onderneming kos hom ook al meer as R100 miljoen.

Dit is egter eenmalige uitgawes.

Sou hy hierdie uitgawes buite rekening laat, beloop sy voorbelaste inkomste R162 miljoen, 80% hoër as ’n jaar gelede.

Ons regrukstrategie berus op vier pilare: verbeterde bedryfsdoeltreffendheid, die herstrukturering van ons balansstaat, die implementering van ’n innoverende netwerkstrategie en die verbetering van ons algehele likiditeit.
Douglas Craigie Stevenson

Op die ‘regte spoor’

Volgens Craigie Stevenson is Cell C steeds “op die regte spoor” en op pad na winsgewendheid.

“Ons regrukstrategie berus op vier pilare: verbeterde bedryfsdoeltreffendheid, die herstrukturering van ons balansstaat, die implementering van ’n innoverende netwerkstrategie en die verbetering van ons algehele likiditeit.”

Mahomed het egter Dinsdag in ’n afsonderlike onderhoud met Netwerk24 herhaal die maatskappy se herkapitalisering is “uiters kompleks” en dat daar “verskeie rolspelers” betrokke is.

Die proses is tans nog “op dreef”, maar daar is geen duidelikheid oor wanneer dit afgehandel sal wees nie. Intussen genereer Cell C meer as genoeg kontant om sy bedrywighede voort te sit sonder om nog geld te leen.

Trouens, sy kontantinkomste het op ’n jaargrondslag met ’n massiewe 450% gestyg, van R93 miljoen in die eerste halfjaar van 2019 tot meer as R500 miljoen nou.

Hoewel hy ’n netto verlies van bykans R7,6 miljard aangeteken het, is dit hoofsaaklik weens die eenmalige waardevermindering van sommige van sy bates.

Dit is egter ’n rekenkundige vereiste vir Cell C om dit op sy boeke aan te dui.

Daarsonder sou sy totale verliese wel steeds R2,5 miljard beloop het.

Die swakker rand het wel die randwaarde van sy bestaande lenings met R1 miljard verhoog. Cell C se skuld beloop tans R9,7 miljard teenoor R8,7 miljard ’n jaar gelede.

Hy betaal tans geen rente op sy skuld nie in oorleg met ’n ooreenkoms wat hy met sy krediteure aangegaan het.

“Cell C moes in die laaste paar maande ’n hele paar moeilike besluite neem,” sê Craigie Stevenson. Dit sluit in die sluiting van sy videostromingsdiens, Black, die beëindiging van verskeie borgskappe, die aflê van personeel en die sluit van winkels.

“Ons moes ons sakemodel wysig en besluit wat ons met ons oorblywende bates doen, insluitende ons spektrum.”

Cell C beplan nie om deel te neem aan aanstaande jaar se spektrumveiling nie omdat hy doodeenvoudig nie die geld daarvoor het nie, sê Craigie Stevenson.

Die netwerk beplan ook om teen 1 Januarie heeltemal na MTN se netwerkinfrastruktuur oor te skakel.

Meer oor:  Cell C  |  Diensverskaffer  |  Tegnologie  |  Resultate  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.