Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Cell C skakel nié sy netwerk af
Van 1 Januarie 2021 af skuif Cell C heeltemal oor na MTN se netwerk, wat beteken Cell C gaan nie meer sy eie netwerktoerusting bou, onderhou of huur nie. Foto: Unsplash

Cell C is nie besig om sy netwerk “af te skakel” nie en beskou onlangse beriggewing hieroor as “ontsettend misleidend”.

Cell C is wel besig om sy hele netwerk na die infrastruktuur van MTN te migreer, maar hy sal steeds as ’n onafhanklike diensverskaffer funksioneer, het ’n woordvoerder verduidelik.

Die tegnologieblad MyBroadband het Vrydag berig Cell C is oorgehaal om die eerste Suid-Afrikaanse diensverskaffer te word wat sy radionetwerk afskakel, “wat die vraag laat ontstaan oor wat van sy toerusting en spektrum gaan word”.

Cell C sê egter by navraag MyBroadband se beriggewing is misleidend en dat hy in der waarheid net van ’n fisieke radionetwerk na ’n virtuele een skuif.

’n Radionetwerk, oftewel RAN, verwys na daardie deel van ’n telekommunikasiestelsel wat individuele toestelle (dus selfone) aan die diensverskaffer se kernnetwerk verbind.

Dit sluit dus netwerktoerusting soos selfoontorings en antennas in.

Van 1 Januarie 2021 af skuif Cell C heeltemal oor na MTN se RAN, wat beteken Cell C gaan nie meer sy eie netwerktoerusting bou, in stand hou of huur nie.

Dié stap is deel van Cell C se voortgesette pogings om koste te besnoei namate hy sy weg tot winsgewendheid probeer vind.

Hoe raak dit Cell C se intekenare?

Kortom gaan bestaande en toekomstige intekenare van Cell C geen onderbreking in dienste ervaar nie.

Trouens, Cell C reken die gehalte van die diens wat hy lewer, gaan verbeter.

“Intekenare sal ’n verbetering sien in die gehalte van die netwerk, met beter dekking. Intekenare word geensins deur die oorgang geraak nie.”

Cell C se intekenare bly ook Cell C s’n, al gebruik hulle MTN se onderliggende netwerkinfrastruktuur.

Hoekom doen Cell C dit?

Cell C is steeds midde-in ’n massiewe omkeerstrategie in ’n poging om weer winsgewend te word.

Hoewel die maatskappy groot hoeveelhede kontant genereer en meer as genoeg inkomste verdien om sy bedrywighede voort te sit, gaan hy gebuk onder ’n massiewe historiese skuldlas van meer as R9,7 miljard.

Sy regrukstrategie berus op vier pilare: verbeterde bedryfsdoeltreffendheid, die herstrukturering van sy balansstaat, die toepassing van ’n innoverende netwerkstrategie en die verbetering van sy algehele likiditeit.

Die oorgang van sy eie na MTN se netwerk is deel van sy netwerkstrategie.

Daarvolgens betaal Cell C MTN om sy netwerkinfrastruktuur te gebruik en hoef hy dus nie sy eie infrastruktuur op te rig of in stand te hou nie.

Op die duur bespaar hy so baie geld aan kapitaaluitgawes.

LEES OOK: Cell C ly groot verlies, maar genereer meer kontant

Wat gebeur met bestaande infrastruktuur?

Wat presies met Cell C se bestaande netwerkinfrastruktuur – insluitend selfoontorings en dies meer – gaan gebeur, is steeds ’n ope vraag.

Volgens ’n woordvoerder moet ’n besluit nog hieroor geneem word. Die maatskappy het reeds heelwat van sy netwerktoerusting by ander ondernemings gehuur. Daardie huurkontrakte word eenvoudig nie hernu nie.

Die waardedaling in sy oorblywende bates is wel reeds op sy jongste resultate vir die halfjaar tot einde Junie verreken.

Daarvolgens het die maatskappy ’n netto verlies van bykans R7,6 miljard in die tydperk onder oorsig gely. Dit was egter hoofsaaklik weens ’n waardedaling van R5 miljard in sommige van sy bates, insluitend sy netwerkinfrastruktuur.

Cell C beplan om gaandeweg sy netwerk (en dus al sy intekenare) na MTN se infrastruktuur oor te dra.

Die oorgang sal na verwagting 36 maande duur om af te handel, beginnende op 1 Januarie aanstaande jaar.

Planne met spektrum

Cell C het ook benadruk hy bly ’n onafhanklike diensverskaffer en in volle beheer van sy toegekende radiospektrum.

Hy sal steeds sy eie spektrum gebruik, hoewel op MTN se netwerkinfrastruktuur. Die maatskappye gaan nie spektrum deel nie.

Intussen hoop Cell C om ook aan aanstaande jaar se veiling vir meer spektrum deel te neem, maar hy word deur ’n waarskynlike gebrek aan finansiering gekortwiek.

Hy hoop op ’n ooreenkoms met die Onafhanklike Kommunikasieowerheid waarvolgens hy meer spektrum kan bekom, wat hy dan oor ’n tydperk sal afbetaal.

Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Netwerk  |  Diensverskaffer  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.