Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Cell C skuld R8,2 miljard, maar ‘daar is hoop’

Cell C se nabelaste netto verlies in die boekjaar tot einde Mei het met ’n verstommende 1 120% toegeneem vergelyke met die vorige boekjaar.

Cell C is Suid-Afrika se derde grootste diensverskaffer.Foto: Getty Images

Die beleërde diensverskaffer, Suid-Afrika se derde grootste wat getal gebruikers betref, het Donderdag ’n netto verlies van R8 miljard vir die afgelope boekjaar verklaar.

In 2018 was dié syfer net R656 miljoen.

Die skerp styging in verliese is hoofsaaklik weens die afskrywing van R6,275 miljard se bates, sê die maatskappy in ’n verklaring.

Cell C, wat nie afsonderlik op die JSE genoteer is nie, het Donderdag sy resultate uitgereik saam met dié van Blue Label Telecoms.

Blue Label besit ’n belang van 45% in Cell C. Dié telekommunikasiegroep het ’n wesensverlies van 312,49c per aandeel verklaar.

Hy plaas die blaam vir sy swak vertoning hoofsaaklik op Cell C se skouers en erken sy belegging in die selfoonmaatskappy het ’n “betekenisvolle invloed” op sy verdienste gehad.

Blue Label het sy belegging in Cell C vroeër afgeskryf en sy aandeel in die diensverskaffer se verliese beloop R3,6 miljard.

Blue Label in syfers:
  • Inkomste: R25,8 miljard
  • Wins: R2,6 miljard
  • Aandeel in Cell C se verliese: R3,6 miljard
  • Wesensverlies per aandeel: 312,49c
  • Kernwesensverlies per aandeel: 304,77c

Meer kontrak-, minder vooruitbetaalde kliënte

Cell C het einde Mei 15,9 miljoen intekenare gehad, effens minder as aan die einde van die 2018-boekjaar.

Die getal vooruitbetaalde kliënte het met 4% gedaal terwyl sy inkomste uit kontrakkliënte met 6% gestyg het.

Die totale inkomste beloop R15,4 miljard, ’n skamele 1% meer as in die vorige boekjaar.

Zaf Mahomed, finansiële hoof, erken Cell C het ’n swak jaar agter die rug. “Die afgelope boekjaar is gekenmerk deur swak groei en ’n sukkelende rand.”

Daarby het beurtkrag en swak ekonomiese groei ook druk op maatskappye en verbruikers geplaas.

Hoewel Cell C onlangs begin het met kostebesparingsinisiatiewe, word dit nog nie in die afgelope boekjaar se syfers weerspieël nie.

Veral ’n peperduur ooreenkoms met MTN waarvolgens Cell C van laasgenoemde se netwerkinfrastruktuur en -torings gebruik maak, het sy geldkoffers leeggetap.

Dié ooreenkoms, wat in Augustus 2018 afgehandel is, het 32% van Cell C se regstreekse uitgawes in die afgelope boekjaar behels.

Dis geen geheim dat Cell C MTN nóg etlike miljoene rande skuld ingevolge hul ooreenkoms nie. Cell C sukkel om dit te betaal en die ooreenkoms is glo intussen herbeding, hoewel nie Cell C of MTN al meer besonderhede daarvan verskaf het nie.

MTN het ook al van Cell C se skuld aan hom afgeskryf.

Skuld, skuld en nog skuld

Cell C se skuldlas raak al hoe hoër en hy het in Julie opgehou om die rente op van die skuld te betaal. Die kredietgraderingsagentskap S&P Global het hom as wanbetaler aangedui, die laagste vlak waarop S&P skuld gradeer.

LEES OOK: Cell C delg nie eens meer rente op sy skuld

Sy skuldlas beloop nou R8,24 miljard teenoor R7,44 miljard ’n jaar gelede.

Volgens Mahomed het Cell C doelbewus besluit om voortaan eerder ander diensverskaffers se netwerkinfrastruktuur te gebruik eerder as om sy eie op te rig en in stand te hou.

“Dit maak nie ekonomies sin om te veel basiese infrastruktuur op te rig nie.”

Cell C kon ook daarin slaag om die finansieringskoste op sy skuld met 44% tot R2,15 miljard te verlaag.

Daar is (glo) hoop

Tog voel Mahomed en Cell C se betreklik nuwe uitvoerende hoof, Douglas Stevenson, dat die diensverskaffer weer op die pad na winsgewendheid is.

Die maatskappy het die laaste drie maande koste links en regs begin besnoei en by plaaslike banke om likiditeit gaan aanklop.

’n “Konsortium van plaaslike banke” is daartoe verbind om likiditeit te verskaf wat die “herkapitalisering van Cell C” sal toelaat.

Van sy bestaande krediteure het ook uitstel gegee vir die terugbetaling van R1,175 miljard wat aanvanklik in Augustus vanjaar sou moes plaasvind.

Cell C wil ook die aanbod op sy stromingsdiens Black in heroënskou neem en R120 miljoen per jaar hierop bespaar.

“Cell C se nuwe bestuurspan is daarop gefokus om die maatskappy in ’n winsgewende en innoverende rolspeler in die plaaslike telekommunikasiebedryf te omskep,” sê Stevenson.

Blue Label Telecoms se aandeelprys het net voor sluitingstyd Donderdag  byna 14% laer op R2,91 verhandel.

    Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Blue Label  |  Resultate  |  Selfoonnetwerk  |  Maatskappye  |  Verliese  |  Netwerk  |  Diensverskaffer  |  Selfoonmaatskappye  |  Tegnologie
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.