Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Cell C sluit 128 winkels, lê nog werkers af

Cell C gaan 128 van sy winkels landwyd sluit in ’n uitgebreide afleggingsproses waardeur nóg 546 van sy werknemers geraak word.

Cell C se hoofkantoor in Woodmead, Johannesburg. Foto: Elvira Wood

Die selfoondiensverskaffer het Sondag gesê dat sy reeds bestaande art. 189-proses uitgebrei moes word weens die impak van die koronavirus-pandemie op sy winkels.

Volgens ’n woordvoerder van Cell C het die pandemie tot gevolg gehad dat honderde Cell C-winkels maande lank geen sake kon doen nie.

“Ons moet ons koste verder besnoei en is op die punt waar winkels moet sluit.”

Die 546 werkers is op 30 Julie daarvan in kennis gestel dat hulle nou ook deur die art. 189-proses ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge geraak word.

Cell C beplan reeds sedert Junie om sowat 960 werknemers, oftewel 40% van sy werkmag van nagenoeg 2 500 mense, af te lê.

Die afleggings weens die sluiting van sy winkels is bykomend tot dié 40%.

Junior bestuurslede is in Junie ingelig oor die inwerkingstelling van ’n herstruktureringsplan om die “onderneming in pas te bring met sy nuwe bedryfsmodel”.

Teen einde Mei is 30 senior bestuurslede ook in ’n afsonderlike herstrukturering afgedank.

Cell C is reeds ’n jaar lank besig met die inwerkingstelling van ’n omkeerplan om weer winsgewend te raak.

Hy gaan gebuk onder ’n groeiende skuldlas wat meer as R8,7 miljard beloop.

Die maatskappy het in die boekjaar tot einde Desember sy uitgawes met ’n stewige 18% besnoei, onder meer deur minder aan instandhouding van sy netwerkinfrastruktuur te bestee.

Cell C het in die laaste twee jaar met MTN ooreengekom om meer van sy netwerkinfrastruktuur te huur eerder as om sy eie op te rig.

Al hierdie strategieë noodsaak dat Cell C sy “bedryfsmodel en organisatoriese struktuur heroorweeg”.

Die diensverskaffer was veronderstel om vroeër vandeesmaand uitstaande skuld op effekte van nagenoeg R2,7 miljard te betaal, maar kon nie. Sy krediteure is by magte om die skuld op te roep, maar sover het geeneen besluit om dit te doen nie aangesien die maatskappy hard werk om weer finansieel volhoubaar te word.

Cell C het terselfdertyd versuim om rente op sy skuld aan onder meer die Ontwikkelingsbank van China, die Nywerheids- en Kommersiële Bank van China sowel as Nedbank en die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika te betaal.

Hy moes dié rente aanvanklik in Januarie en toe weer in Julie betaal, maar het albei kere versuim om dit te doen.

Cell C skuld die Ontwikkelingsbank van China sowat R1,94 miljard, die Nywerheids- en Kommersiële Bank van China sowat R1,105 miljard, Nedbank minstens R847 miljoen en die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika R230 miljoen.

Meer oor:  Cell C  |  Afdankings  |  Diensverskaffer  |  Tegnologie  |  Selfone
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.