Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Cell C stoei met skuld, drastiese stappe kom
Cell C verdrink al dieper in die skuld. Foto: Duncan Alfreds, Fin24

Cell C het met drastiese stappe begin om die sukkelende diensverskaffer se finansiële posisie te verbeter.

Suid-Afrika se derde grootste diensverskaffer volgens getal intekenare, se bedryfswins het in die jaar tot einde Desember met meer as 73% gedaal vergelyke met 2017. Sy verlies voor belasting beloop nou meer as R1,2 miljard volgens sy jongste beskikbare syfers.

In ’n ope brief wat aan joernaliste gestuur is, erken Douglas Craigie Stevenson, tussentydse hoof, die maatskappy is in ’n finansiële penarie.

Sy bekentenis kom skaars twee weke nadat die internasionale kredietgradeerder S&P Cell C met vier trappe tot die heel laagste gradering op sy skaal, selektiewe wanbetaling (SD), verlaag het. Dit beteken hy is reeds agterstallig met van sy skuld en delg net sommige daarvan.

In sy brief stippel Stevenson ’n omkeerplan uit, wat die moontlikheid van herkapitalisering insluit.

Die telekommunikasiemaatskappy Blue Label Telecoms het reeds in 2017 ’n reddingsboei na Cell C gegooi en ’n belang van 45% in die diensverskaffer vir sowat R5,5 miljard bekom.

Die maatskappy moes wel intussen bykomende aandele uitreik om sy reddingsboei te finansier.

Cell C se skuld het reeds Blue Label Telecoms se kernwesensverdienste met meer as R1,05 miljard verlaag in die boekjaar tot einde Desember.

Ondersoek na ‘ongerymdhede’

In sy brief skryf Stevenson afgesien van moontlike beleggings, gaan die diensverskaffer ook ondersoek instel na enige “verdagte afdelings van die onderneming” en onreëlmatige sakepraktyke.

Cell C het die prokureursfirma Bowmans as onafhanklike ondersoeker hiervoor aangestel. PwC is ook aangestel om ’n volledige oudit van die diensverskaffer se verkrygings te doen.

Stevenson het nie melding gemaak of die maatskappy verwag dat enige ongerymdhede gevind gaan word nie.

Cell C het ook in Desember ’n nuwe finansiële hoof, Zaf Mahomed, met “uitgebreide ervaring in die finansiële bedryf” aangestel om die maatskappy weer na winsgewendheid te help lei.

Mahomed was voorheen finansiële hoof by McDonald’s in Suid-Afrika.

cell c

Kostebesnoeiing

Danksy Mahomed se ingryping is verskeie kostebesparingsmaatreëls reeds begin. Dit sluit in die bevriesing van poste en ’n oorsig van bestaande kontrakte met diensverskaffers.

Hoewel Cell C nog nie begin het met afleggings nie, is “aktiewe gesprekke” reeds met personeel en die betrokke vakbonde gevoer.

Volgens Stevenson wil die maatskappy die proses op ’n “deursigtige wyse” benader.

Hy waarsku ook ongehoorde gedrag deur personeel sal nie geduld word nie. Ontevrede werkers het in Februarie voor Cell C se hoofkantoor in Woodmead, Johannesburg, betoog oor onbetaalde bonusse.

Van hierdie werkers is later per brief en WhatsApp ingelig hulle is geskors hangende ’n dissiplinêre verhoor.

Die diensverskaffer se jare lange uitvoerende hoof, José dos Santos, het dieselfde maand skielik bedank.

Cell C, wat nie afsonderlik genoteer is nie, het volgens die jongste beskikbare syfers sowat 16 miljoen intekenare in Suid-Afrika.

Blue Telecoms se aandeelprys was Donderdag in 'n stadium 13% minder. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.