Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Cell C trek Blue Label Telecoms verder af

Blue Label Telecoms se tussentydse resultate vir die ses maande tot einde November 2018 het beleggers nie juis beïndruk nie en die maatskappy se aandeelprys het Donderdag met tot 12% tot R5,39 geval.

blue label telecoms
’n Kunstenaarsvoorstelling van ’n straat met advertensieborde van die verskillende dienste wat Blue Label Telecoms aanbied. Foto: Blue Label Telecoms

Die telekomsmaatskappy, wat ’n belang van 45% in Cell C het, se bedryfsinkomste in die tydperk beloop net meer as R12,3 miljard.

Die maatskappy moes bykomende aandele uitreik om sy reddingsboei aan die sukkelende Cell C te finansier.

Blue Label het in 2017 ’n broodnodige kapitaalinspuiting aan Cell C gegee in ruil vir ’n belang van 45%.

Die maatskappy het nog nie die skuld wat hy hiervoor aangegaan het, gedelg nie.

Cell C, wat Donderdag sy eie resultate vir die jaar tot einde Desember bekend gemaak het, gaan self steeds gebuk onder berge skuld wat hy sukkel om terug te betaal.

En sonder enige kapitaalinspuiting van buite het Cell C se bedryfswins in die afgelope boekjaar met R4 miljard gedaal. Sy verlies voor belasting beloop meer as R1,2 miljard.

Dit het Blue Label se kernwesensverdienste met meer as R1,05 miljard verlaag.

Gevolglik het die maatskappy ’n kernwesensverlies van 11,39c per aandeel verklaar.

Sonder die impak van Cell C sou Blue Label ’n kernwesensverdienste per aandeel van 55c behaal het.

Blue Label het verlede Vrydag aangekondig ’n konsortium wat deur die miljardêr Jonathan Beare gerugsteun word, gaan ’n minderheidsaandeelhouer in Cell C word in ’n poging om sy finansies te stabiliseer.

“Met die sogenaamde Buffet-konsortium se ondersteuning sal Cell C se balansstaat ’n hupstoot kry. Dit sal volhoubare groei in die toekoms verseker,” sê Blue Label.

Hy erken Cell C se enorme skuldlas het ’n negatiewe impak op sy eie balansstaat, al maak sy kernsake steeds goed geld.

Peter Takaendesa, ’n portefeuljebestuurder by Mergence Investment Managers, het aan Business Report gesê Cell C sal aandag moet gee aan sy onderliggende probleme voordat hy kan hoop om sy vooruitsigte te verbeter.

“Cell C is in ’n moeilike posisie. Hy het van die beste uitvoerende hoofde gehad, waaronder Allan Knott-Craig, wat ook Vodacom begin het. Hy het al baie goed probeer, maar niks het verander nie.”

Meer oor:  Cell C  |  Blue Label Telecoms  |  Selfoondienste  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.