SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Tegnuus
Cell C wil kernbates van die hand sit
Cell C se hoofkantoor in Woodmead, Johannesburg.Foto: Elvira Wood

Suid-Afrika se derde grootste selfoonnetwerk bied van sy kernbates te koop aan om sy skuldlas van sowat R9 miljard te kan verminder.

Volgens bronne is Cell C se optieseveselnetwerk en selfs sy gefaktureerde kliëntebasis te koop.

Hy is ook glo besig met onderhandelinge om toegang tot van sy draadlose frekwensies aan MTN te verkoop.

Die bronne wil anoniem bly omdat die planne nog nie amptelik bekend gemaak is nie.

Hulle sê die planne prikkel MTN, Vodacom en Telkom se belangstelling.

Nie een van dié drie maatskappye wou kommentaar lewer nie.

“Cell C sal enige geleentheid oorweeg wat sal help om die lewensvatbaarheid en volhoubaarheid van die onderneming te verseker. Elke geleentheid moet ’n behoorlike noulettendheidsondersoek ondergaan wat alle belanghebbendes in ag neem,” het ’n woordvoerder van Cell C by navraag per e-pos geantwoord.

Die oorheersende posisie van Vodacom en MTN in die Suid-Afrikaanse mark plaas kleiner rolspelers soos Cell C onder druk.

Cell C het reeds voorheen amper gevou, voordat ’n reddingsplan met Blue Label Telecoms aan die hoof hom in 2016 gered het.

Cell C is ook in gesprekke met MTN om groter toegang tot dié se netwerk te bekom, het Douglas Stevenson, uitvoerende hoof van Cell C, in September gesê.

Suid-Afrikaanse operateurs oorweeg toenemend die uitbreiding van hul optiesevesel-aanbiedings om hul kliëntebasis uit te brei en hul inkomste te verhoog. Dit is omdat die staat sloer met die verkoop van nuwe spektrum, wat die beskikbaarheid van hoëspoed-internet sal uitbrei.

’n Geskil tussen die regering en die telekommunikasiereguleerder oor hoe om met die veiling voort te gaan, het die verkoopproses tot die eerste kwartaal van 2021 vertraag.

Blue Label-aandele het vanjaar met al 47% gedaal en die groep word nou op R2,6 miljard gewaardeer. – Bloomberg

Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Telkom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.