Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Covid-19 knou Telkom se resultate

Telkom verwag ’n reuse-daling in sy verdienste per aandeel weens sy insluiting van die verwagte effek van Covid-19 op sy resultate vir die jaar tot einde Maart.

Die Telkom-toring in Pretoria. Foto: Getty Images

In ’n handelsverklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, sê die telekommunikasiereus al het Covid-19 net twee weke van sy boekjaar tot einde Maart beïnvloed, is die beste praktyk om die effek daarvan nou al by te voeg by sy verwagte resultate wat aanstaande Maandag uitgereik word.

Telkom het as deel van die verwagte uitwerking van Covid-19 ’n bedrag van R626 miljoen se waarde-afskrywings gedoen op handelsgoedere en kontrakbates op sy resultate vir die boekjaar tot einde Maart.

Hy het ook ’n eenmalige koste van R1,14 miljard vir sy groot herstrukturering waarin talle werknemers afgelê is en vroeë-uittredingspakkette aanvaar het, ingesluit. Dit plaas ’n enorme belastinglas op Telkom, want dié afskrywings en koste kan nie van belasting afgetrek word nie.

Telkom se effektiewe belastingkoers vir die afgelope boekjaar is dus nou 37%. Hy het gewaarsku sy wesensverdienste per aandeel kan met tussen 65% en 70% daal tot slegs tussen R1,86 en R2,17, teenoor R6,19 verlede jaar.

Basiese verdienste per aandeel sal na verwagting met tussen 75% en 80% tot tussen R1,40 en R1,12 tuimel, teenoor R5,61 ’n jaar gelede.

’n Groot faktor in Telkom se laer verdienste voor inkomstebelasting, waardevermindering en amortisasie (Ebitda), is die volgehoue neiging van mense wat van sy vastelyntelefoondienste wegbeweeg.

Inkomste uit telefoonlyne het met 22% gedaal teenoor ’n jaar gelede, en is net deels uitgekanselleer deur die vooruitgang van sy mobiele afdeling, Telkom Mobile.

Telkom Mobile se inkomste het met ’n beduidende 50% gestyg, maar dit was nie genoeg om vir die verlies in die ou stapel van Telkom se inkomste op te maak nie.

Telkom het wel R1,2 miljard se skuld uit sy kontantreserwes afbetaal. Die res van sy skuld is geherstruktureer en gekonsolideer om beter rentekoerse te benut.

Hy het steeds ’n bykomende R1,8 miljard geleen, wat sy skuldkoste met sowat 51% opgestoot het.

Telkom se likiditeitsposisie het aansienlik verbeter en staan nou op R4,7 miljard.

Meer oor:  Telkom  |  Tegnologie  |  Staat Van Inperking  |  Resultate  |  Verdienste  |  Staatsondernemings  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.