Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Covid-19 maak Telkom nie te siek nie
Die Hillbrow-toring met die Telkom-embleem in Johannesburg. Foto: Getty Images

Telkom is betreklik ongeskonde wat betref die impak van die koronaviruspandemie op sy bedrywighede, het die maatskappy Vrydag gesê.

In ’n nota aan beleggers op die JSE se nuusdiens, Sens, sê Telkom sy afdeling vir verbruikersdienste het tydens die nasionale staat van inperking van krag tot krag gegaan omdat so baie mense skielik van die huis af moes werk.

Die diensverskaffer sê hy het “sterk groei” in die verkoop van mobiele data in die eerste helfte van die jaar gehad.

Mobiele data dra sowat 70% by tot die inkomste van Telkom se afdeling vir mobiele dienste.

Trouens, Telkom se afdeling vir mobiele dienste het tydens die staat van inperking soveel gegroei dat hy Cell C met sy getal intekenare verbygesteek het.

Telkom is dus nou naas Vodacom en MTN die derde grootste diensverskaffer in Suid-Afrika.

Sy getal mobiele intekenare het in sy boekjaar tot einde Maart met ’n stewige 24% tot net onder 12 miljoen toegeneem.

Telkom het nie Vrydag gesê hoeveel mobiele intekenare hy tydens die staat van inperking bygekry het nie, net dat die afdeling “sterk gegroei” het.

Een afdeling waarin Telkom wel die effek van die pandemie gevoel het, is sy afdeling vir korporatiewe dienste.

Die migrasie na werk van die huis af en ondernemings wat die gordels stywer moet trek, het tot ’n daling in Telkom se inkomste van korporatiewe kliënte gelei.

Daar was ’n “aansienlike daling” in landlynoproepe, sê hy.

Telkom het in die laaste twee dekades reeds meer as 70% van sy landlyngebruikers verloor namate al meer mense en ondernemings na selfoontegnologie oorgeskakel het.

Die pandemie het ook ondernemings gedwing om die kopskuif te maak na aanlyn kommunikasiemiddels soos Zoom en Teams wat tot verdere verliese van landlyndienste gaan lei.

Die groter vraag na internetdienste by die huis het Telkom genoop om tydens die staat van inperking sy veseldiens te verbeter om die toename in dataverkeer te hanteer.

Openserve, Telkom se afdeling vir groothandeldienste, bedryf verskeie vesellyne in Suid-Afrika waaraan ander internetdiensverskaffers dan verbind.

“Die staat van inperking het net weer gewys hoe noodsaaklik vastelyn-internetdienste is,” sê Telkom.

Ongeag al die uitdagings weens die pandemie kon Telkom daarin slaag om geen skuld in die tydperk sedert 30 Maart 2020 tot nou toe aan te gaan nie.

Sy likiditeit bly “veerkragtig met ’n stabiele balansstaat”.

Telkom het nog geen besonderhede gegee oor ’n verwagte toename of verlies in verdienste per aandeel nie.

Hy reken hy sal meer besonderhede oor sy resultate vir die halfjaar tot einde September rondom 10 November deurgee.

Telkom het Vrydag bykans 1% laer teen R21,15 per aandeel verhandel.

Meer oor:  Telkom  |  Tegnologie  |  Diensverskaffer  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.