Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Cyril beloof wéér goedkoper data, meer spektrum
Suid-Afrikaners wag steeds dat die prys van data daadwerklik daal. Foto: Unsplash

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy vierde staatsrede dieselfde aanspraak gemaak dat die toekenning van meer hoëfrekwensiespektrum “noodsaaklik is in ons digitale ekonomie”.

Dis amper woordeliks dieselfde as wat hy in sy tweede staatsrede in Junie 2019 gesê het.

Tog wag diensverskaffers steeds dat die Onafhanklike Kommunikasieowerheid (Okosa) met die proses moet begin om meer spektrum toe te ken.

Volgens die president is dié owerheid daartoe verbind om die lisensiëring van meer spektrum “voor die einde van 2020” af te handel, waarna dit opgeveil sal woord.

Met meer spektrum kan diensverskaffers data meer doeltreffend deur die lug aan gebruikers bied, wat die koste sal verlaag.

Die duur prys van data bly ’n brandpunt in Suid-Afrika.

Ramaphosa het Donderdag kortliks hierna verwys en gesê die afgehandelde markondersoek deur die Mededingingskommissie daarna “skep die grondslag vir pryse om verlaag te word”.

Die kommissie is steeds in gesprek met sowel Vodacom as MTN oor wat ’n regverdige bedrag is om per megagreep data te vra.

Albei dié diensverskaffers het al gesê hulle “bly verbind” tot goedkoper data, maar is onwillig om gehoor te gee aan die Mededingingskommissie se vereiste dat die prys daarvan met tot 50% gesny moet word.

Volgens Ramaphosa gaan gesprekke voort tussen die kommissie en die diensverskaffers om die prys van vooruitbetaalde databondels “diep te sny”.

Daarbenewens is daar ook planne om bykomende afslag aan lae-inkomste-huishoudings te gee.

Die toekenning van ’n “daaglikse kwota gratis data” om opvoedkundige webwerwe en ander webwerwe “in openbare belang” te kan besoek, is ook nog in die pyplyn, sê die president.

“Dit is ’n belangrike stap om lewens te verbeter, mense tot die digitale ekonomie te voeg en aanlyn ondernemings te stimuleer.”

Ramaphosa het egter soortgelyke stellings in sy vorige staatsredes gebruik en toe al gesê dat die verlaging in die koste om te kommunikeer, nodig is ten einde werkskepping – veral onder jong mense – aan te wakker.

Meer oor:  Spektrum  |  Staatsrede2020  |  Datapryse  |  Tegnologie  |  Staatsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.