Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Cyril skaar hom by China oor Huawei
Pres. Cyril Ramaphosa en Shinzo Abe van Japan op die G20-beraad in Japan. Foto: Getty Images

Pres. Cyril Ramaphosa het hom op die naweek se G20-beraad in Osaka, Japan, by China geskaar en gesê Suid-Afrika sal aanhou om die Chinese telekommunikasiereus Huawei te ondersteun.

Dit kom nadat pres. Donald Trump aanvanklik in Mei aangekondig het dat Amerikaanse ondernemings nie meer sake mag doen met Huawei nie, omdat hy meen dat die maatskappy namens die Chinese regering op gebruikers spioeneer.

Trump het egter die naweek in ’n verrassende wending op die beraad van plan verander en gesê die verbod op Huawei sal vir eers nie ingestel word nie.

Ongeag daarvan was Ramaphosa egter “gereed” om Huawei te verdedig, berig die Sunday Times.

Volgens dié koerant het al vier diensverskaffers Ramaphosa genader en gevra dat hy die Suid-Afrikaanse telekommunikasiesektor se “belange help beskerm”.

Huawei is een van die grootste beleggers in dié bedryf, veral wat Suid-Afrika se uitbreiding na hipermoderne 5G-netwerkinfrastruktuur betref.

Indien Amerika se verbod op Huawei voortgaan, sal dit verreikende gevolge vir die uitbreiding van 5G in Suid-Afrika inhou, sê die diensverskaffers.

’n Woordvoerder van die minister van kommunikasie, Stella Ndabeni-Abrahams, het bevestig dat die diensverskaffers hulle oor dié kwessie tot Ramaphosa gewend het.

Derhalwe het Ramaphosa op die G20-beraad met pres. Xi Jinping van China vergader en verduidelik hoe belangrik Huawei vir Suid-Afrika se telekommunikasiebedryf is.

Eienaars van Huawei-fone was ook tot onlangs in ’n ligte paniek omdat hul toestelle eersdaags weens die verbod sou ophou om te funksioneer. Daar was vrese dat die apps en dienste van Amerikaanse oorsprong ná die inwerkingtreding van die verbod in Augustus sou ophou werk.

Trump se besluit om vir eers nie die verbod in te stel nie beteken dat Huawei-toestelle steeds toegang tot programmatuur soos die Android-bedryfstelsel en apps soos Facebook en WhatsApp sal hê.

Trump het Saterdag gesê Amerikaanse firmas mag steeds toerusting en programmatuur aan Huawei verkoop solank dit nie ’n sekerheidsrisiko vir die VSA inhou nie.

Hy het gesê hy sal verder oor die kwessie moet besin en geïmpliseer dat hoewel die verbod vir eers nie ingestel word nie, beteken dit nie dat dit vir altyd afgelas word nie.

Volgens Trump het Xi ingestem dat China “ongelooflik baie” landbouprodukte vanuit Amerika gaan invoer en in ruil daarvoor sal die beoogde verbod op Huawei nie gebeur nie.

Meer oor:  Huawei  |  Cyril Ramaphosa  |  Xi Jingping  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.