Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Daar’s dalk ’n rot in jou Android-foon

Asof jy nou nie genoeg het om oor bekommerd te wees nie, wil ’n rot dalk toegang tot jou foon kry. Of liewers, ’n Rat (remote access trojan), ’n kwaadwillige app.

Volgens Gizmodo is ’n nuwe app vir Android-fone ontdek wat nie net jou data steel nie, maar ook jou bewegings en aanlyn soekgeskiedenis kan monitor.

Pasop vir kwaadwillige apps. Foto: Unsplash

Die app se naam is System Update en doen hom voor as iets wat ’n mens nodig het om jou foon se bedryfstelsel in die normale verloop by te werk.

Dis ontdek deur navorsers van die mobiele sekuriteitsfirma Zimperium, wat dit as ’n Rat geklassifiseer het. Dit val in ’n wye kategorie van kwaadwillige apps wat kubermisdadigers in staat stel om toegang tot gebruikers se toestelle te kry en dan van ’n afstand af te manipuleer.

Darem nie in die Play Store nie

Voordat jy alle versoeke vir opdaterings van jou foon se stelsels ignoreer: Dié is ’n app wat jy self sou moes aflaai. Dis ook nie een wat op Google se Play Store beskikbaar was nie – dis een wat jy deur ’n skakel in ’n e-pos sou ontvang of wat iemand aan jou sou SMS.

Daar is nog geen aanduiding dat dit in Suid-Afrika algemeen versprei is nie.

Nietemin, die ontdekking van die uiters gesofistikeerde app is ’n goeie aanmaning dat mense net apps moet aflaai wat wel deur Google se Play Store of Apple App Store beskikbaar is en daarom waarskynlik veilig is.

Natuurlik het Google ook al probleem-apps goedgekeur, maar die laaste geval van ’n Rat-spioenasieprogram wat deurgegelip het, was in 2014.

’n Studie wat verlede jaar gepubliseer is, het wel getoon dat die Google Play Store die grootste verspreider van kwaadwillige programme vir Android was.

“Kwaadwillige programme soos dié word ’n groter probleem vir gebruikers. Daarom is dit ’n goeie idee om die aantal programme op jou foon te beperk en die nodige huiswerk te doen voordat jy iets aflaai – anders kan gebruikers se data op die donker web verkoop word,” het Shridhar Mittal, uitvoerende hoof van Zimperium, onlangs aan TechCrunch gesê.

Hoekom sou mense dit aflaai?

Die spesifieke Rat lyk soos ’n nuttige app – een wat beloof dat dit gaan help om die gebruiker se foon op datum te hou.

Ons fone vra immers gereeld dat ons dit bywerk; klink die nie lekker dat ’n app beloof om dit in die agtergrond te doen nie?

Maar eintlik help die app niks nie – dit stuur jou persoonlike inligting terug na ’n opdrag-en-beheer-bediener.

Mittal dink die app is deel van ’n “geteikende aanval”. “Dis die mees gesofistikeerde Rat wat ons al gesien het.

“Ek dink baie tyd en moeite is bestee aan die skep van die app. Ons glo dat daar ander apps soos hierdie is, en ons probeer ons bes om dit so gou as moontlik te vind.”

Wat maak dit erger as ander Rats?

Die wye verskeidenheid data wat die app kan steel, is skrikwekkend. Dit sluit in:

WhatsApp-boodskappe;

  • Die nommers wat jy gebel het;
  • Jou telefoonkontakte;
  • Al jou foto’s en video’s;
  • Jou internet-soekgeskiedenis; en
  • Al die programme op die foon.

Die app kan gebruikers se GPS-ligging monitor.

Dit kan die kamera van die gebruiker se foon kaap om foto’s te neem, en die mikrofoon aanskakel om klank op te neem.

Hoe aktiveer jy dit?

Die spioenasie-vermoëns van die app word geaktiveer wanneer die toestel nuwe inligting ontvang. As jy dus ’n foonoproep maak, word dit onmiddellik opgeneem.

Nadat die gebruiker se inligting gesteel is, sal die Rat bewyse van sy eie aktiwiteit uitvee.

Meer oor:  Sagteware  |  Kuberaanval  |  Apps  |  Android  |  Kubermisdaad  |  Kuberkraker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.