Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Data by staat geberg? Vrae oor staat se plan

Die regering se voorneme om ’n nuwe staatsbeheerde mega-datasentrum tot stand te bring, is onrealisties, ondeurdag en aanmatigend, sê ’n telekommunikasie-konsultant.

Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie en tegnologie Foto: Witness Media

Die departement van kommunikasie en tegnologie het pas ’n nuwe konsepbeleid bekend gestel vir die regulering en beskikbaarstel van data en wolkberging.

Ingevolge die beleid wil die regering sy eie digitale transformasiesentrum (DTC) en ’n grootskaalse rekenaar- en dataverwerkingsentrum tot stand bring. Die digitale transformasiesentrum moet dien as katalisator vir “Digitale Suid-Afrika” wat aan die voorpunt sal staan van digitale inisiatiewe wat as “groei-enjins” vir die ekonomie moet dien.

Die rekenaar- en dataverwerkingsentrum sal op sy beurt data hanteer en wolkbergingsdienste verskaf aan staatsdepartemente, provinsies, munisipaliteite, universiteite en selfs ook vir burgerlikes en private ondernemings.

Christoph Klein, besturende direkteur van dotadvisors, ’n telekommunikasie-konsultasiegroep, sê die idee is vergesog. “Daar is nie eens ’n bestaande digitale inisiatief wat deur die regering gedryf word nie. Daar is ook nie iets soos ’n ‘digitale Suid-Afrika’ nie – net individue wat van digitale tegnologie gebruik maak.

“Suid-Afrika het nie inmenging van die regering in die digitale sfeer nodig nie. Die regering is arrogant as hy dink dat hy die ganse ekonomie kan ‘leer’ van die digitale ekonomie,” sê Klein.

In die konsepbeleid sê die departement daar is tans geen amptelike regeringsbeleid om die verkryging van plaaslike data en die eienaarskap en berging daarvan te reguleer nie.

Dit is ’n bedreiging vir nasionale veiligheid en ekonomiese en maatskaplike vooruitgang. Luidens die konsepbeleid stel die departement ook voor dat niesensitiewe data op ’n “oop stelsel” of volgens ’n “oopbronraamwerk” (open source framework) beskikbaar gestel word aan die publiek.

Die regering beskou dit ook as problematies dat data en wolkberging beheer word deur ’n “handvol groot multinasionale maatskappye”.

Daarom moet data wat in Suid-Afrika gegenereer word as ’n “strategiese bate” verklaar word.

Die regering se konsepbeleid oor data en wolkberging sluit in die stigting van ’n grootskaalse dataverwerkingsentrum. Foto: iStock

Mish Molakeng, woordvoerder van die departement van kommunikasie en tegnologie, het aan Rapport gesê dit beteken basies dat die regering data beskou as die kern van ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling in die land. Die verwysing na “oop data” in die konsepdokument behels die deel van niesensitiewe data sodat die regering en private sektor beter dienste kan lewer, sê hy.

“Die private sektor sal nie verplig word om hul data te deel nie. Hulle sal wel aangemoedig word om hul data beskikbaar te stel (op grond van kommersiële voorwaardes waar van toepassing).”

Met die beleid wil die regering nie die private sektor dwing om hul data aan die regering oor te dra nie, het Molakeng benadruk. Hy wys daarop dat private hospitale in Covid-19 hul statistieke met die regering gedeel het vir beter beplanning en besluitneming.

Christoff Pienaar, direkteur en nasionale hoof van tegnologie, media en telekommunikasie by Cliffe Dekker Hofmeyr, sê soos wat hy die konsepbeleid verstaan, wil die regering sy dienste aan Suid-Afrikaners met bestaande tegnologie uitbrei, eerder as om die infrastruktuur van die private sektor te reguleer.

Die totstandbringing van ’n staatsbeheerde datasentrum is ook nie uniek nie.

“Die Chinese regering besit byvoorbeeld een van die grootste datasentrums in die wêreld en die VSA het sulke sentra in Utah, Georgia, Maryland en Texas.”

Volgens Pienaar het die uitbreking van Covid-19 veroorsaak dat regerings al meer bedag is op die belangrikheid van datasentrums en digitale infrastruktuur en daar is die gevaar van oorregulering.

Data ís egter belangrik wat nasionale veiligheid betref, sê Pienaar. “As wetgewing nie data genoeg beskerm nie, kan dit nasionale veiligheid – veral ekonomiese veiligheid – bedreig.”

Hy sê lande wat data nie voldoende beskerm nie, word beskou as onveilige bestemmings vir die deel en berging van data. Dit kan op sy beurt ’n negatiewe uitwerking hê op so ’n land se hele IT-bedryf.

Anna Collard, besturende direkteur van KnowBe4, ’n platform vir opleiding oor kuberveiligheid, sê dit wil voorkom of die regering met hierdie konsepbeleid maatskappye se afhanklikheid van groot maatskappye wat wolkberging verskaf, wil verminder. Volgens Collard het bestaande IT-organisasies wat die regering rugsteun, soos Cyberhub, groot personeeltekorte.

“Daar is drie mense wat alle nasionale kubermisdaadvoorvalle moet hanteer sonder die nodige stelsels of ondersteuning. Ek kan nie sien hoe die regering die hulpbronne sal vind om self die infrastruktuur vir wolkberging te verskaf wat kan vergelyk met die veiligheid, prys en gehalte van Microsoft of Amazon Web Services nie.”

Meer oor:  Data  |  Spektrum  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.