Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Data is duurder in SA ‘omdat dit beter is’

Die prys van data word deur verskeie faktore bepaal. Dit is daarom nie regverdig om die prys van byvoorbeeld een gigagreep data in verskillende Afrikalande te vergelyk nie.

Data is duurder in Suid-Afrika omdat die gehalte van die netwerk hier soveel beter is as elders in Afrika, sê Vodacom en MTN.Foto: Unsplash

Só het Vodacom en MTN Vrydag gereageer op die Mededingingskommissie se markondersoek na die “buitensporig hoë prys van data” in Suid-Afrika.

Die kommissie het sy voorlopige verslag vandeesweek uitgereik. Lees meer daaroor hier en hier

Daarin word albei diensverskaffers oor die kole gehaal omdat die prys van dieselfde hoeveelheid data hemelsbreed verskil tussen Suid-Afrika en ander Afrikalande waar hulle sake doen.

Data is telkens plaaslik die duurste. (Sien ook grafika hiernaas.)

Maar daar is ’n goeie rede daarvoor, sê sowel MTN as Vodacom.

Die gehalte van Suid-Afrika se mobiele infrastruktuur is verreweg die beste op die vasteland, en dit kos miljoene rande om op te rig en te onderhou.

“Die prys van data (en ander mobiele dienste) is wesenlik afhanklik van insetkoste,” sê ’n woordvoerder van Vodacom.

“Hierdie koste, en ook ander faktore soos die tipe tegnologie beskikbaar, die gebiede wat dekking het, die spoed van die netwerk en die gehalte daarvan, is ter sprake.”

MTN het byvoorbeeld die afgelope dekade meer as R77 miljard in Suid-Afrika bestee om sy netwerk te verbeter.

Derhalwe dek MTN nou 99% van Suid-Afrika met 3G-opvangs en 90% met 4G.

Vodacom dek ook 99% van die land met 3G.

Dieselfde geld nie vir ander Afrikalande waar MTN en Vodacom sake doen nie.

In Lesotho is 4G-dekking minder as 70% en in Tanzanië is dit net sowat 12%.

In Nigerië, nog ’n land waar die “lae prys” van data geloof word, is 4G-dekking ook net 12%.

vodacom

“Hoewel dit aanloklik is om die prys van een gigagreep data in Suid-Afrika met sommige lande in Sentraal- en Noord-Afrika te vergelyk, moet die gehalte van die gebruiker se ervaring ook in ag geneem word.

“Die ervaring daar is ondergeskik juis weens beperkte kapitaalbeleggings in infrastruktuur en daarom kan data teen ’n afslagprys aangebied word,” sê MTN.

Selfoonontvangs en internetspoed is byvoorbeeld swakker in Nigerië en in Ghana as in Suid-Afrika.

Suid-Afrika is ook ’n massiewe land met ’n unieke topografie. Netwerkinfrastruktuur is goedkoper in lande waar die topografie platter is en derhalwe minder netwerktorings benodig om ’n wyer gebied te dek.

Die grootte van die bevolking en die verskil tussen stedelike inwoners en plattelanders moet ook in ag geneem word.

Volgens MTN het die Mededingingskommissie nie hierdie faktore voldoende verreken nie.

Sommige van die versteekte koste wat datapryse beïnvloed:
  • Die prys en beskikbaarheid van spektrum;
  • Die aantal torings wat opgerig moet word;
  • Die huur van die grond waarop die torings staan;
  • Infrastruktuur soos paaie na en die omheining van hierdie toringstasies;
  • Brandstof vir kragopwekking tydens beurtkrag;
  • Elektrisiteit;
  • Korporatiewe belasting, BTW en invoerbelasting op hardeware;
  • Salarisse van personeel;
  • Lisensietariewe en gelde betaalbaar aan reguleerders; en
  • Huurgeld vir toegang tot ondersese kabels.

Gebrek aan spektrum ook ’n kopseer

Sowel Vodacom as MTN bekla ook opnuut die gebrek aan beskikbare spektrum in Suid-Afrika.

Meer hoëfrekwensiespektrum word benodig sodat diensverskaffers nie soveel infrastruktuur benodig om selfoonseine na die uithoeke van die land te versprei nie.

Selfoonnetwerke moet natuurlik ook vir dié broodnodige spektrum betaal. Die prys daarvan verskil ook van land tot land. Dis goedkoper in lande met meer beskikbare spektrum (soos Lesotho).

Ander versteekte datakoste sluit in die huur van bandwydte op ondersese internetkabels. Hierdie veselkabels wat Afrika, en uiteindelik Suid-Afrika, aan die wêreldwye internetnetwerk verbind, kos ook geld om te onderhou. Hierdie koste moet uiteindelik van die gebruiker verhaal word.

Suid-Afrikaners gebruik ook beduidend meer internet as ander Afrikalande, wat ’n hoër bydrae tot hierdie koste meebring.

Die kommissie word ook gekritiseer omdat sy verslag geskoei is op datapryse van 2017 en nie die jongste beskikbare pryse nie.

Sowel MTN as Vodacom het oor die laaste jaar die prys van veral buitebondeldata aansienlik gesny.

Kragtens bepalings van die Onafhanklike Kommunikasieowerheid mag diensverskaffers ook nie meer buitebondeltariewe vra sonder toestemming nie, wat verdere finansiële druk op netwerke plaas.

Rolspelers in die bedryf het tot 14 Junie om terugvoering aan die kommissie te gee. Die kommissie sal na verwagting die finale verslag later vanjaar uitreik.

    Meer oor:  Vodacom  |  Mtn  |  Data  |  Selfoonnetwerk  |  Dataprys  |  Netwerk  |  Diensverskaffer  |  Datakoste
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.