Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Uiteindelik! Só kan jy jou data oordra

Cell C laat van aanstaande maand af sy intekenare toe om ongebruikte data oor te dra, maar teen ’n prys.

Hy is die enigste selfoondiensverskaffer wat ’n tarief gaan hef vir dié diens.

Nuwe dataregulasies vereis dat diensverskaffers van 1 Maart die opsie moet bied dat intekenare se ongebruikte data nie verval nie. Maar diensverskaffers benader elkeen die toepassing van dié nuwe reels heelwat anders. Foto: Pixabay

Nuwe dataregulasies vereis dat diensverskaffers van 1 Maart die opsie moet bied dat intekenare se ongebruikte data nie verval nie. Die regulasies skryf nie voor hoe diensverskaffers dit prakties moet uitvoer nie.

Ongebruikte data wat verval is reeds jare lank ’n steen des aanstoots vir Suid-Afrikaners wat meen dit is onregverdig dat diensverskaffers data laat verval waarvoor hulle reeds betaal het.

Volgens dié gebruik verval datapakkette gewoonlik binne ’n week of ’n maand, met geen opsie om oorblywende data te behou nie.

Die onafhanklike uitsaaiowerheid (Okosa) het nou ’n stokkie daarvoor gesteek.

Cell C se planne:

Van 1 Maart af het Cell C-intekenare die opsie om oorblywende data se geldigheid vir een, sewe of 30 dae te verleng.

Databondels wat geldig is vir een dag kan met nog ’n dag verleng word. Databondels wat vir vyf dae geldig is, kan met nog sewe of 30 dae verleng word.

Databondels wat vir ’n maand of 90 dae geldig is, kan met ’n bykomende dag, week of nog ’n maand (30 dae) verleng word.

Databondels wat vir ’n jaar geldig is, kan net met ’n maand verleng word.

Dit geld nie data wat ingesluit is op ’n kontrak nie. Enige oorblywende data hier sal aan die einde van ’n kalendermaand outomaties na die volgende maand oorgedra word. Intekenare sal dus toegang hê tot oorblywende data sowel as die huidige kalendermaand se toegelate data.

Dinge raak egter heelwat meer kompleks vir vooruitbetaalde intekenare of kontrakkliënte wat bykomende data aanskaf.

Cell C sal jou toelaat om tot 100 megagreep van die oorblywende data vir een of sewe dae oor te dra. As jy meer as 100 megagreep maar minder as 500 megagreep oor het, kan jy dit gratis vir nog ’n dag gebruik.

Groter databondels, of as jy jou oorblywende data vir langer as ’n week wil laat geld, gaan jou kos.

As jy byvoorbeeld ’n databondel van 1 gigagreep gekoop het wat vir 30 dae geldig is, sal jy moet betaal om oorblywende data van meer as 500 megagreep oor te dra.

As jy byvoorbeeld 763 megagreep oor het en die data verval om middernag, sal jy R7,63 moet betaal om dit met ’n dag uit te stel; R15,26 om dit met ’n week uit te stel, of R22,89 om dit met ’n maand uit te stel, verduidelik Cell C.

Dit is steeds heelwat goedkoper as om ’n nuwe databondel van 750 megagreep aan te skaf.

Dié oordrag van data gaan nie outomaties gebeur nie. Gebruikers sal dit moet aanvra in die Cell C-app of deur ’n spesiale kode te skakel.

Bondels wat spesifiek geld vir WhatsApp of Facebook kan nie oorgedra word nie.

MTN se planne:

Jacqui O’Sullivan, hoof van korporatiewe sake by MTN, sê kontrakkliënte se oorblywende data word reeds outomaties na ’n volgende kalendermaand oorgedra. As ’n kliënt byvoorbeeld niks van sy ingeslote data in ’n maand gebruik nie, sal hy dubbeld sy toekenning in die volgende maand kan gebruik.

Die “oudste” data word eerste gebruik, wat beteken jy sal weer oorblywende data na die volgende maand kan oordra.

Vooruitbetaalde kliënte, of kontrakkliënte wat ’n bykomende databondel aanskaf, sal ook maklik oorblywende data kan oordra.

Volgens O’Sullivan moet intekenare bloot ’n nuwe databondel aanskaf voor die vorige een verval.

“Sodra die kliënt ’n nuwe bondel aanskaf, word die oorblywende data se geldigheid ook verleng.”

O’Sullivan sê die regulasies skryf nie voor vir hoe lank die geldigheidsperiode van die data verleng moet word nie, net dat dit moontlik moet wees.

MTN gaan geen tarief hef vir die diens nie en intekenare kan data oordra soveel as wat hulle wil, mits hulle ’n nuwe databondel aanskaf voor die bestaande een verval.

Telkom se planne:

Andrew Dawson, hoof van Telkom se mobiele produkte en dienste, sê gebruikers se oorblywende data op dié netwerk sal ook outomaties met ’n bykomende kalendermaand verleng word.

“In eenvoudige terme gee Telkom al sy kliënte ’n bykomende maand om hul data te gebruik,” sê hy.

In die geval van ’n databondel wat elke maand aangeskaf word, hetsy op kontrak of vooruitbetaal, sal die vorige maand se “ou” data eerste gebruik word.

Dit geld wel nie vir twee van Telkom se FreeMe-databondels nie.

Sy 150 megagreep- en 250 megagreep-FreeMe-bondels is net geldig vir twee weke met geen opsie om oorblywende data se geldigheid te verleng nie.

Groter databondels (500 megagreep en meer) se geldigheid is verleng van een tot twee maande, met geen opsie om dit verder te verleng nie.

Vodacom se planne:

’n Woordvoerder van Vodacom sê ook dié selfoondiensverskaffer gaan sy kliënte toelaat om oorblywende data oor te dra.

Soortgelyk aan MTN sal kliënte wel ook ’n nuwe databondel moet aanskaf ten einde die data wat sou verval oor te dra.Volgens Vodacom moet die nuwe bondel dieselfde grootte wees as die een wat verval.

Dit is vir eers die enigste manier hoe kliënte oorblywende data sal kan oordra tot ná die vervaldatum.

Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Telkom  |  Selfoonnetwerk  |  Selfoondienste  |  Datakoste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.