Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Dataskandaal kan Facebook duur te staan kom

Facebook word deur ’n reuseboete van £500 000 in die gesig gestaar vir sy aandeel in die Cambridge Analytica-skandaal.

Die konsultasiefirma Cambridge Analytica het toegang verkry tot 87 miljoen Facebook-gebruikers se inligting voor die verkiesing van pres. Donald Trump. Foto: Reuters

Elizabeth Denham, die Britse kommissaris van inligting, het aangedui die boete is vir twee oortredings van die land se wet op die beskerming van data.

Denham het tydens ’n maande lange ondersoek, wat steeds aan die gang is, tot die gevolgtrekking gekom dat Facebook versuim het om sy gebruikers se inligting te beskerm, en dat die maatskappy nie deursigtig was in die manier waarop derde partye dié inligting kon insamel nie.

“Hoewel boetes en vervolgings oortreders straf, is die werklike doel om veranderinge teweeg te bring en vertroue in ons demokratiese stelsel te herstel,” sê Denham in ’n verklaring.

Die maksimum boete wat ’n maatskappy opgelê kan word vir die oortreding van die wet op die beskerming van data is £500 000 (R8,8 miljoen).

Facebook het vroeër vanjaar erken dat minstens 87 miljoen van sy gebruikers se inligting op ’n onvanpaste wyse deur die konsultasiefirma Cambridge Analytica bekom is.

Die maatskappy het Amerika se pres. Donald Trump in sy verkiesingsveldtog bygestaan.

Facebook het erken dat minstens 87 miljoen van sy gebruikers se inligting op ’n onvanpaste wyse deur die konsultasiefirma Cambridge Analytica bekom is.

Cambridge Analytica, wat ontken dat hy iets verkeerd gedoen het, het sedertdien om sakeredding aansoek gedoen.

“Verkiesingsveldtogte kan nuwe tegnologieë gebruik om mense se data te analiseer en potensiële kiesers te teiken. Maar dit kan nie gebeur ten koste van deursigtigheid, billikheid en die nakoming van die wet nie,” sê Denham.

Mark Zuckerberg, Facebook se beleërde hoof, het in Mei vir die Europese parlement om verskoning gevra vir die “skade” wat die skandaal aangerig het en vir sy maatskappy se versuim om doeltreffend teen die verspreiding van vals nuus op te tree.

Europa se nuwe algemene databeskermingsregulasies (GDPR) het op 25 Mei in werking getree. Daarvolgens kan maatskappye tot 4% van hul wêreldwye jaarlikse inkomste of €20 miljoen (afhangende van watter bedrag die grootste is) beboet word as gebruikers se persoonlike inligting uitlek.

Omdat Facebook se beweerde oortredings in die Cambridge Analytica-skandaal so vroeg as 2015 plaasgevind het, word hy derhalwe ingevolge vroeëre wetgewing beboet.

Die kommissaris se kantoor gaan eers sy ondersoek volledig afhandel alvorens Facebook sy uiteindelike lot sal weet.

Die finale verslag sal na verwagting teen einde Oktober klaar wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.