Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
#DeleteFB, vra duisende wéér – maar waarom?
Facebook is die wêreld se grootste sosiale netwerk. Foto: Unsplash

Facebook is weer besonder ongewild nadat dit aan die lig gekom het dat sy baas, Mark Zuckerberg, in die geheim met konserwatiewe politici en regse kommentators vergader het.

Die Amerikaanse nuusblad Politico het eerste oor dié vergaderings berig.

Volgens die publikasie het Zuckerberg sedert Julie verskeie “informele aandetes” met konserwatiewe joernaliste, kommentators en minstens een Republikeinse verteenwoordiger gehad om oor kwessies soos vryheid van spraak en moontlike vennootskappe te gesels.

Tucker Carlson, die omstrede Fox-omroeper, en Lindsey Graham van die Republikeinse Party, was maar twee van die gaste, berig Politico.

Kort nadat dié nuus aan die lig gekom het, het duisende ontevredenes hulle gewend tot Twitter en gevra dat almal onmiddellik hul Facebook-profiele sluit.

Die veldtog het kort voor lank duisende ondersteuners gehad wat onder die hutswoord #deletefacebook getwiet het.

Zuckerberg het intussen in ’n inskrywing op sy persoonlike Facebook-blad gesê hy het etes met “verskeie persone van regoor die politieke spektrum” gehad.

Volgens hom is dit nodig om die uitgangspunt van verskillende groepe aan te hoor.

“As jý dit nog nie probeer het nie, stel ek voor jy doen dit.”

Tog word daar bespiegel dat Zuckerberg gaan vlerksleep het by konserwatiewe kommentators en wetmakers omdat Facebook in die laaste paar maande oor beweerde partydigheid onder skoot gekom het.

Amerika se pres. Donald Trump het die sosiale netwerk in Mei van sensuur beskuldig nadat Facebook verskeie regse kommentators en verspreiders van samesweringsteorieë die platform verbied het.

Dit sluit die regse radioman Alex Jones in. Jones is berug daarvoor dat hy onder meer die skietery in 2012 by die Sandy Hook Elementary School in die deelstaat Connecticut as ’n poets beskryf en aanvoer dat dit in werklikheid nooit gebeur het nie.

Twitterati het in Maart 2018 ook gevra dat almal hul Facebook-profiele uitwis nadat dit aan die lig gekom het dat die omstrede konsultasiemaatskappy Cambridge Analytica kort voor die Amerikaanse verkiesing toegang tot 50 miljoen Facebook-profiele gekry het.

’n Groot deel van Facebook se 2 miljard gebruikers was briesend oor wat hulle beskou het as die “oneerlike wyse” waarop gebruikers se data ingespan is.

Hoe wis ek my profiel vir altyd uit?

Wees net deeglik bewus daarvan dat as jy die volgende stappe volg, gaan jy jou Facebook-profiel vir ewig uitvee en daar sal geen manier wees om dit te herwin nie.

Jou data is vir altyd verlore.

Maak daarom eers ’n rugsteunkopie van alles sodat jou foto’s, video’s en boodskappe nie permanent uitgevee word nie.

Hierdie rugsteunkopie word jou “Facebook archive” genoem.

Gaan na “settings” en klik op “download a copy of your Facebook data”. Dié stap gaan al die inskrywings, foto’s en video’s wat jy gedeel het, sowel as al die regstreekse boodskappe wat jy gestuur het en al die persoonlike inligting op jou profiel in een lêer aflaai.

Sodra jy dié lêer suksesvol afgelaai (en veilig iewers bewaar) het, kan jy begin om jou rekening permanent uit te wis.

Daar is geen “delete”-knoppie iewers op Facebook nie en jy moet eerder daarna op die platform se “help”-blad gaan soek.

Volg bloot hierdie skakel en klik op “delete my account”.

Jou rekening sal binne 90 dae heeltemal gewis word.

Vir meer inligting lees ook: Hoe wis ek my Facebook-profiel uit?

Meer oor:  Facebook  |  Mark Zuckerbeg  |  Tegnologie  |  Politiek  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.