Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Dié 3 woorde kan jou lewe red
What3words gee ’n unieke adres aan elke punt op aarde. Foto: ER24

Nooddienspersoneel kan nou tegnologie benut om maklik enige plek op aarde te vind, sonder dat die persoon in nood ’n moeilike adres, of selfs GPS-koördinate, hoef te gee.

ER24 het Maandag aangekondig hy gaan die dienste van what3words by sy stelsels integreer.

Die geokoderingstelsel what3words is deur ’n Britse onderneming ontwikkel en dit funksioneer soortgelyk as Google Maps. Pleks van ’n straatadres word die hele wêreld in blokkies van 3 m² verdeel.

Elke blokkie het sy eie unieke “adres” wat uit drie woorde bestaan.

Die hoofingang van die Media24-sentrum in die Kaapse middestad is byvoorbeeld ///thumbed.retriever.shaving.

In ’n noodgeval sal ’n persoon die what3words-app kan gebruik om sy unieke adres te bepaal. Nooddienspersoneel sal dan ambulansdienste na hierdie adres kan stuur.

Dit is veral handig in gevalle waar die persoon in nood nie die presiese straatadres ken (of kan spel) nie of as ’n motorongeluk byvoorbeeld langs ’n verlate pad plaasvind.

Met what3words sal ER24 presies weet waarheen om die nooddienste te ontplooi, enige plek op aarde.

Jaco Kaalsen, deel van ER24 in Bloemfontein, sê die app is veral handig vir noodgevalle in informele nedersettings, waar daar dikwels geen formele adresstelsel is nie.

“Tydens ’n noodgeval ontmoet iemand ons gewoonlik by ’n spesifieke baken en wys ons van daar af hoe om by die toneel uit te kom. Danksy die app sal ons baie tyd spaar deur dadelik na die spesifieke punt waar die nood is te kan gaan.”

Die Suid-Afrikaanse Automobiel-Assosiasie (AA) gebruik ook reeds what3words om sy lede in geval van nood op te spoor.

What3words is gratis om te gebruik en kan op sowel Android- as Apple-toestelle geïnstalleer word.

Sodra jy die app oopmaak, kry jy jou unieke drie-woord-adres vir jou huidige ligging.

Jy kan ook enige straatadres nagaan en só daardie plek se unieke what3words-adres bekom sonder dat jy fisiek daar hoef te wees.

Meer oor:  Er24-Nooddienste  |  Tegnologie  |  Nooddienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.