Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Dié 5 foute kos EOH R3,7 miljard, erken hoof

Vyf massiewe foute het EOH van 2013 tot 2017 R3,7 miljard gekos, het die tegnologiemaatskappy Dinsdag erken.

Stephen van Coller, uitvoerende hoof, het op ’n voorlegging oor EOH se resultate vir die jaar tot einde Julie die sluier gelig oor grootskaalse bedrog wat oor etlike jare plaasgevind het.

Gebrekkige bestuur en wanbesteding het die maatskappy ook duur te staan gekom, sê hy.

EOH het vyf foute begaan wat hom R3,7 miljard in verlore inkomste en/of afskrywings gekos het.

Die vyf foute is:

  • Beleggings van R900 miljoen in Zimbabwe wat nou afgeskryf is;
  • Beleggings van R750 miljoen in bates wat nie inkomste genereer nie;
  • Oorspandering aan ingewikkelde projekte tot die waarde van R750 miljoen;
  • Beleggings van R400 miljoen in ’n maatskappy met ’n enkele kliënt – dié belegging is ook afgeskryf; en
  • Wanbestuur en gebrekkige kontrole wat gelei het tot die onttrekking van R935 miljoen uit EOH se geldkoffers.
eoh

Laasgenoemde verwys na verskeie verdagte transaksies wat sy filiaal EOH Mthombo tussen 2014 en 2017 met verskeie staatsondernemings aangegaan het.

’n Volskaalse ondersoek deur die adviesfirma ENSafrica het bevind dat R665 miljoen in dié tyd van EOH gesteel is deur maatskappye wat fakture ingedien het sonder dat hulle enige werk gedoen het.

Terselfdertyd is “lenings” van R90 miljoen aangegaan wat nooit terugbetaal is nie.

Diensverskaffers het ook oordrewe fakture tot die waarde van R180 miljoen ingedien, wat betaal is.

Volgens Van Coller het die vyf faktore regstreeks bygedra tot die finansiële penarie waarin die maatskappy hom tans bevind.

R3,4 miljard se skuld moes in 2017 aangegaan word om net likied te kon bly. Dié skuld word nou teen R500 miljoen per jaar aan krediteure, wat groot handelsbanke insluit, terugbetaal, sê hy.

Wie word by die foute betrek?

Van Coller het op ’n vraag van ’n belegger bevestig dat die persone wat verantwoordelik was vir die “mislukte” belegging van R900 miljoen in Zimbabwe intussen in die pad gesteek is.

Dié belegging is gedoen lank voordat Van Coller hom in September 2018 by EOH aangesluit het.

Hy het nie die gevolge van die ander mislukte beleggings aangeroer nie.

Rakende die “diefstal” van R935 miljoen oor etlike jare, het Van Coller gesê al die betrokke werknemers is afgedank en daar is met regstappe teen hulle begin.

EOH het in Julie gesê agt werknemers by Mthombo word by die bedrog betrek. Dinsdag het dit aan die lig gekom minstens 16 werknemers is betrokke.

50 sakeondernemings wat voordeel uit die bedrog getrek het, is geïdentifiseer. EOH het alle bande met dié maatskappye gesny.

Die name van die betrokke maatskappye is nie bekend gemaak nie.

Daarbenewens word die uitvoerende hoofde van 18 van hierdie maatskappye by die bedrieglike transaksies betrek sowel as 12 persone wat in die staatsdiens werk.

Mthombo doen hoofsaaklik sake met ondernemings in die openbare sektor.

Stephen van Coller, uitvoerende hoof van EOH.Foto: EOH

EOH het die name van 46 mense aan die Valke oorhandig vir verdere ondersoek.

Regstappe is ook begin teen die betrokke ondernemings om van die verlore geld te herwin, hoewel Van Coller sê daar is nie veel hoop dat die maatskappy alles sal terugkry nie omdat die regskoste te hoog sal wees.

Toekomstige verhouding met Microsoft

EOH wil binnekort weer probeer om ’n amptelike herverkoper van programmatuurlisensies van Microsoft te word.

Microsoft het vroeër vanjaar sy kontrak met EOH beëindig nadat ’n fluitjieblaser die maatskappy by die Amerikaanse markreguleerder, die Securities and Exchange Commission, gaan verkla het.

Dié stap het EOH tot R30 miljoen in voorbelaste wins gekos.

Die maatskappy gaan nou weer vlerksleep by Microsoft om ’n vennootskap aan te gaan, maar die proses kan etlike maande duur, sê Van Coller.

Altron is onlangs as Microsoft se nuwe gelisensieerde oplossingsverskaffer (LSP) in Suid-Afrika aangewys.

Volgens Van Coller is dit verkeerd om te sê EOH se verhouding met Microsoft is “dood” noudat Altron die kontrak losgeslaan het.

In die jaar tot einde Julie het EOH ’n totale verlies van R29,95 per aandeel verklaar. Geen dividend word uitgekeer nie.

Die bedryfsverlies beloop R3,373 miljard, 152% meer as ’n jaar gelede.

Die totale verlies vir die tydperk onder oorsig beloop R4,8 miljard.

EOH het Dinsdag vroegmiddag 4,3% hoër teen R13,51 verhandel.

Meer oor:  Eoh  |  Eoh Holdings  |  Stephen Van Coller  |  Tegnologie  |  Bedrog  |  Tegnologiemaatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.