Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Die beste nuwe fone wat by IFA aangekondig is

Hoewel die IFA-tegnologiekonferensie in Berlyn, Duitsland, nie juis gereken word as dié plek vir die bekendstelling van nuwe slimfone nie, het ’n hele paar maatskappye tog besluit om vanjaar met hul jongste toestelle te spog.

Verskeie maatskappye het nuwe slimfone tydens vanjaar se IFA-skou in Berlyn bekend gestel. Foto: Petrus Malherbe

Onder meer Samsung, Nokia en Sony het die geleentheid, wat vroeër vandeesweek ten einde geloop het, gebruik om hul nuwe slimfone voor ’n groot gehoor aan te kondig.

Hier is vyf van die beste nuwe fone waarna jy kan uitsien:

1. Samsung se Galaxy Fold

Daar is al heelwat oor Samsung se eerste voubare foon berig – insluitend dat die eerste weergawe daarvan ’n massiewe mislukking was.

Samsung het tydens vanjaar se IFA-skou byna terloops melding gemaak van sy Galaxy Fold, wat nou glo “gereed” is.

Dié foon, wat aanvanklik in Februarie aangekondig is, word nou uiteindelik uitgereik en is van vandeesweek af in Suid-Korea beskikbaar.

Dit is verreweg Samsung se duurste foon tot nog toe en sal na verwagting meer as R50 000 kos wanneer dit later in Suid-Afrika uitgereik word.

2. Sony se Xperia 5

Hoewel sy afdeling vir slimfone steeds agteruit boer, stel Sony steeds nuwe toestelle bekend.

Tydens die IFA-konferensie het die maatskappy sy jongste Xperia 5 aangekondig. Dié kragtige slimfoon, vergelykbaar met van Samsung se nuutste slimfone wat spoed en funksionaliteit betref, is merkbaar langer. Volgens Sony maak dit die Xperia 5 ideaal om flieks op te kyk of speletjies te speel.

Dié foon, wat tussen R13 000 en R14 000 gaan kos in Europa, word voor die einde van jaar daar uitgereik. Wanneer dit in Suid-Afrika beskikbaar gaan wees, bly ’n ope vraag veral as daar in ag geneem word Sony het in Mei aangedui hy gaan nie meer op Afrika as handelsgebied fokus nie.

nokia
Die nuwe weergawe van die klassieke Nokia 2720. Foto: Petrus Malherbe

3. Nokia se nuwe klapfoon

HMD Global, wat reeds geruime tyd selfone onder die eens gewilde handelsnaam Nokia vervaardig, was vanjaar vir die eerste keer by IFA teenwoordig.

Daar het die maatskappy die terugkeer van die bekende klapfoon, oftewel die flip phone, aangekondig.

Dit is die jongste toestel in Nokia se “Originals”-reeks, wat reeds nuwe weergawes van die ikoniese Nokia 3310 en die Nokia 8110 (ook bekend as die Piesangfoon) insluit.

Nokia het ook twee spoggerige slimfone, die Nokia 6.2 en 7.2, by vanjaar se konferensie bekend gestel.

Lees hier vir meer inligting oor Nokia se reeks nuwe selfone.

4. Huawei se P30 Pro – in nuwe kleure

Huawei het nie vanjaar ’n nuwe slimfoon tydens die IFA-skou aangekondig nie. Dié Chinese maatskappy, wat tans worstel met Amerikaanse reguleerders, het wel die geleentheid gebruik om “nuwe” weergawes van sy P30 Pro aan te kondig.

Die P30 Pro is reeds ’n paar maande oud, maar kry nou die jongste weergawe van Android én is beskikbaar in nuwe, spoggerige kleure.

Richard Yu, Huawei se uitvoerende hoof, het tydens sy toespraak geen melding gemaak van die maatskappy se regulatoriese kopseer wat die gebruik van Amerikaanse produkte en programmatuur betref nie.

LEES OOK: Huawei swyg oor twis by IFA-konferensie

Huawei stel aanstaande week sy jongste vlagskipfoon, die Mate 30, bekend, maar dit is nog onbekend watter bedryfstelsel dié foon gaan hê.

Kragtens ’n Amerikaanse verbod mag maatskappye soos Google en Intel nie meer handel dryf met Huawei nie. Google vervaardig onder meer die Android-bedryfstelsel, wat beteken daar is ’n goeie kans dat die Mate 30 ’n ander bedryfstelsel, of ’n afgewaterde weergawe van die Android-bedryfstelsel, gaan hê.

Motorola se nuwe One Zoom. Foto: Petrus Malherbe

5. Motorola se One Zoom

Motorola, wat deesdae deur Lenovo besit word, het ook twee nuwe slimfone tydens die IFA-skou bekendgestel, insluitend die One Zoom.

Dié foon het vier kameralense, insluitend ’n hooflens van 48 MP en ’n 16 MP-wyehoeklens.

Dié foon beskik oor ’n kragtige verwerker en massiewe battery van 4 000 mAh wat dae lange batterykrag belowe.

Die foon is boonop ook heelwat goedkoper as soortgelyke toestelle van Huawei of Samsung. Dit is reeds in die Europese mark beskikbaar teen ’n voorgestelde prys van R7 000.

Lenovo het nog geen aankondiging gedoen oor wanneer die toestel in Suid-Afrika beskikbaar gaan wees nie. Dit is ook reeds in Suid-Amerika en Mexiko beskikbaar.

  • Netwerk24 se besoek aan IFA 2019 is deur Lenovo geborg.
Meer oor:  Sony  |  Motorola  |  Huawei  |  Nokia  |  Lenovo  |  Tegnologie  |  Ifa 2019  |  Selfoon  |  Slimfone
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.