Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Dié ou fone sal gou nie kan WhatsApp
’n Persoon hou ’n iPhone vas waarop WhatsApp geïnstalleer is. Foto: Unsplash

As jy ’n betreklike ou slimfoon het, gaan jy dalk eersdaags toegang tot WhatsApp verloor.

Dié kletsdiens, wat aan Facebook behoort, het onlangs aangedui hy gaan nie meer slimfone ondersteun wat ou weergawes van die Android- en iOS-bedryfstelsel gebruik nie.

Vanaf 1 Februarie aanstaande jaar sal enige slimfoon met die Android weergawe 2.3.7 of ouer nie meer WhatsApp kan installeer nie.

Dieselfde geld iPhones met iOS-weergawe 8 of ouer.

Bitter min iPhones gebruik egter nog hierdie ou weergawe van iOS siende dat Apple selfs sy oudste toestelle toelaat om na die nuwer weergawes van sy bedryfstelsel te skuif.

In ’n inskrywing op sy korporatiewe blog verduidelik WhatsApp egter dat enigiemand met ’n ouer selfoon sal kan aanhou om WhatsApp te gebruik, mits die app voor 1 Februarie afgelaai en geaktiveer is.

Ná 1 Februarie sal gebruikers van ouer fone die app nie meer kan aflaai of aktiveer nie.

Hoewel jy sal kan klets, sal verskeie ander funksies binne die app nie werk nie, omdat WhatsApp nie meer die toestel ondersteun nie.

Trouens, WhatsApp beveel aan dat sy app net op fone geïnstalleer word wat Android 4.0.3 of nuwer het, of ’n iPhone met iOS 9 of nuwer.

Die kletsdiens werk wel ook op goedkoper funksionele fone wat die KaiOS-bedryfstelsel gebruik.

WhatsApp staak ook alle ondersteuning vir slimfone met Microsoft se bedryfstelsel, Windows Phone, vanaf 31 Desember vanjaar.

Daarna sal die app glad nie meer op enige foon met Windows Phone werk nie, ongeag of dit vooraf geïnstalleer was of nie.

iOS 8 is in September 2014 uitgereik; Android weergawe 2, met die kodenaam Gingerbread, is heelwat ouer en reeds in Desember 2010 uitgereik.

Volgens die jongste beskikbare syfers is Android weergawe 2 nog net op sowat 0,3% van Android-toestelle geïnstalleer.

iOS 8 is net beskikbaar vir iPhone 4S, 5, 5C, 5S en 6. Al hierdie toestelle kon wel intussen na nuwer weergawes van iOS oorskakel.

Meer oor:  Facebook  |  Whatsapp  |  Android  |  Kletsdiens  |  Slimfoon  |  Ios  |  Iphone  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.