Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Dié Samsung-foon kan vou, maar kos R50 000

As jy gedink het die nuwe Samsung Galaxy Note 20 Ultra is duur, dink weer. Samsung het Dinsdag een van sy duurste slimfone nóg aangekondig.

Sy jongste voubare foon, die Z Fold 2, gaan ’n ongelooflike R50 000 kos wanneer dit later vandeesmaand in Suid-Afrika uitgereik word.

Die Note 20 Ultra, wat vroeg in Augustus aangekondig is, kos minstens R37 000.

LEES OOK: Splinternuwe Samsung kos R37 000

Die Z Fold 2 is die opvolger van verlede jaar Galaxy Fold, Samsung se eerste voubare foon.

Samsung se nuwe, voubare Z Fold 2. Foto: Samsung

Die bekendstelling van die Galaxy Fold was ’n enorme flater nadat die skerm in die hande van verskeie joernaliste oor die wêreld heen gebreek het.

Die aanvanklike bekendstelling vroeg in 2019 is toe met ses maande vertraag.

Volgens Samsung het hy geleer uit sy foute en is die Z Fold 2 ’n “verbetering in elke opsig”.

Die tegnologiemaatskappy het intussen nog ’n voubare toestel, die Z Flip, bekend gestel.

Die Z Fold 2 vou, nes sy voorganger, oop soos ’n boek.

Dit spog met ’n standaardskerm aan die buitekant, maar vou oop tot ’n massiewe skerm van meer as 19 cm.

Die voubare skerm bestaan uit nuwe tegnologie wat Samsung “ultra thin glass” noem.

Dit is skynbaar duursamer as die plastiekskerm van die oorspronklike Z Fold (die Galaxy Fold is intussen as die Z Fold herdoop).

Die Z Fold 2 word wel verskeep met ’n plastiese skermbeskermer wat bo-oor die buigbare glasskerm geplak is.

Verlede jaar se Z Fold het R44 000 gekos toe dit in Oktober in Suid-Afrika uitgereik is.

Die Z Fold 2 is R6 000 duurder.

Volgens Samsung het al sy modelle van die Z Fold in Suid-Afrika uitverkoop, hoewel hy nie wou sê hoeveel modelle hy uiteindelik van die hand gesit het nie.

Die foon word steeds op sy plaaslike aanlyn winkel gelys, maar kos nou R53 000.

Die Z Fold 2 is toegerus met 256 gigagrepe se stoorplek en 12 gigagrepe se geheue.

Dit word ook uitgereik met 5G-funksionaliteit.

Hoewel indrukwekkend, is die kamera van die Z Fold 2 nie heeltemal so goed soos dié van die Note 20 nie.

Die kamerastelsel bestaan uit drie lense van 12 MP elk teenoor die Note 20 Ultra se hooflens van 108 MP.

Die Z Fold 2 word op 25 September in Suid-Afrika uitgereik.

Die maatskappy is nog besig om met die vernaamste diensverskaffers te onderhandel oor die kontrakprys van sy nuwe, peperduur foon.

Hy verwag dat dit nagenoeg R2 799 per maand sal kos op kontrak.

Meer oor:  Samsung  |  Slimfone  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.